Ondersoek Alkohol Misbruik En Huishoudelike Geweld

drankDrank van sigself is nie noodwendig boos nie. Dit is die nagevolge wat uitloop op ellende, gebroke huise, gemolesteerde kinders en vrouens wat mishandel word. Laat ons nou nie die vrou heeltemal verontskuldig nie. Ons almal ken die bekende tipe van die vrou met die bier in die een hand en die baba in die ander… Ouers wat permanent dronk is, is geen voorbeeld vir hulle kinders nie, en het nog minder die reg om dan vir hulle kinders te preek. Baie tieners ly aan een of ander depressie sindroom omdat hulle weet hulle moet na skool huis toe gaan na gesuipte of liewers ‘verdrinkte’ ouers wat aggressief is. Daar is altyd geld vir drank in so huishouding en alle ander prioriteite word laaste op die lys geplaas.


Daar is ook die mening dat in ‘n huis waar drank misbruik welkom is duur dit nie lank nie dan word die agter deur oopgemaak vir dwelms. Ek het al baie die verskoning self by tieners gehoor “as my ma ‘n dronkgat is, hoekom kan ek nie my zol in vrede rook nie.” Deesdae regverdig tot die Pinkster kerke die gebruik van alkohol. Dit word as ‘social drinking’ aanvaar, waar voorheen het apostoliese dames nie eens gewaag ‘n langbroek kerk toe te dra nie. Waardes het so verander. Ons is liberaal en wat nie dood maak maak seker groot. Moenie die kinders blameer nie, blameer die ouers. Waar te veel drank betrokke is swaai die vuiste graag. Ons moet versigtig wees om nie die drank partytjies te veel te geniet nie.
Met hiérdie maand se uitgawe het ons besluit om dieper te gaan as net die lewenstyl gewone oogpunt van net ouer-wees in die 21ste eeu. En dit is die onaangename onderwerp van huishoudelike geweld in ons gemeenskap. Ons begin nie by die uitpunt nie – vrouens wat aangerand word, kinders wat geslaan word, die welsyn wat kinders wegneem en die algemene letsels wat daarmee gepaard gaan. Ons begin by die begin en dit is by jou as alkoholis. As man van die huis moet jy die voorbeeld stel. Dronk word en dan intieme aandag van jou vrou afdwing is nou nie regtig die gepaste manier om vroulief te bekoor nie. Hoe ook al jy jouself sien – lê die begin van die einde van ellende alleenlik by jou. Jy as verslaafde is die enigste een wat jouself uit onaangename omstandighede kan red.

Daar is geen ridder op ‘n wit perd wat jou gaan vlugtig wegneem en bevry nie. Die ridder op die wit perd is niemand anders as jy nie – die wil lê binne in jou. As jy alkohol misbruik regverdig jy dat jou huisgesin verslawende middels ook misbruik deur jou dade wat veel meer spreek as woorde. Alkohol misbruik is ook ‘n vreeslike aanslag op jou gesondheid en psige. Van nier en lewer probleme tot volle alkohol vergiftiging – die statistieke spreek van self.

Dit is ook die rede hoekom baie kinders en tieners respek verloor vir hulle ouers en huis verlaat. Waar kinders die slagoffers is, is dit enige persoon se verantwoordelikheid om te sorg dat dit aan die plaaslike welsyn werker of werkster gerapporteer word.
As jy eerlik genoeg is om te besef jy het ‘n probleem het jy reeds die eerste stap geneem om jou verslawing te oorwin. Die besluit lê by jou en waar daar ‘n wil is is daar ‘n weg. Die Alcoholics Anonymous hou byeenkomste in Pretoria Noord en ongelukkig is dit die naaste sentrum vir hulp. Hulle noodlyn is 0861 HELP AA (435-722). Skakel hulle en draai jou lewe om vir die beste vandag nog – jy weet nooit wat voor lê nie.