‘n Boer Se Voet Is Deel Van Die Grond

n boer se voeteElvis Blue sê vir ons dat elkeen van ons gemaak is om spore te los. Of dit nou goeie of slegte spore is. Hoe groter die voet hoe dieper is die spoor.

Ons ken ons boere as groot manne. Manne wat skrikwekend lyk, maar wat die grootste harte het. ‘n Tipise boer se oggend begin met ‘n lekker warm koppie boeretroos en beskuit. Terwyl meeste van ons nog lekker snoesig lê en slaap is die boer al op die lande besig om seker te maak ons het kos om te eet die oomblik as ons ons oë oopmaak. Daai lekker spek – en – eier ontbyt kom nie uit ‘n fabriek uit nie!

Sy voete is deel van die grond. Letterlik en figuurlik. Van kleins af leer hy al wat boerdery behels. Hulle behandel die lande mooier as wat hulle hulle vrouens sal behandel. Die grond is lief vir die boer en die boer is lief vir die grond. Staan hy te lank stil dan skiet hy dalk wortel.
Wortels wat diep genoeg gaan om ‘n fondasie vir ons nasie te wees. Sonder boerdery in ons land sal alles inmekaar val. Ek probeer dink hoe dinge sou wees sonder die invloed van boere. Daar sou nie sulke goed gewees het soos biltong of koeksisters nie. Niemand sou gebraai het nie en dan sou rugby kyk nie meer so opwindend gewees het nie. Daar sou geen boeremusiek by ‘n mandjie dans gespeel het nie. Vellies sou dalk ook nie bestaan het nie! Trekkers sou nie ons bloed laat borrel in die oggende oppad werk toe nie en daardie vars plaas reuk in die oggende, wat jou ampertjies naar maak, sou ‘n onbekende reuk wees. Die woordeboek beskryf nie verniet dat ‘n boer ‘n “landBOUER” is nie! Met die onlangse droogte het die land swaar gekry.

Sekere kosse het skaars geword en die kos pryse het deur die dak geskiet. Tog het mens in die nuus gelees dat die boere wat nie te erg deur die droogte getref is nie ander boere gehelp het sodat hulle nie dalk alles verloor nie.
Dis iets om op trots te wees. Dit is hoe jy diep spore trap. Spore wat mens oor ‘n honderd jaar nog kan sien. Trek uit daai skoene, gooi dit oor jou skouer en gaan loop kaalvoet in die sand. Voel hoe die sand tussen jou tone voel. Luister hoe sing jou voete as dit aanraking maak met die warm grond. Skiet jou wortels net daar waar jy staan en raak deel van die fondasie wat hierdie land help bou. Raak deel van die boere gemeenskap. Kom reën, kom wind, kom water. Ons sal reg wees vir alles. Kaalvoet kinders is tog die gelukkigste kinders.