Monthly Archives: July 2015

The Royal Gecko – eko-toerisme soos dit hoort

Bosveld rustigheid
Bosveld rustigheid

 

Nie vêr vanaf die Dalunie kerk nie, op die Dikololo-pad, trek die ingangshek aandag. Ons het gaan dagsê en daar is terug daggesê. Die eienaar, Johan Blom, het ons welkom laat voel.

Die bordjies by die hek klink besig; conferences, accommodation, team building, game drives en so aan? Johan glimlag en sê: “Jy sal nie glo hoe stedelinge hunker na plekke soos hierdie nie. Veral omdat ons so naby is aan Pretoria en Johannesburg. Hulle kom hier alleen en in groepe. Dis net verstommend om te sien hoe hulle nukkerig hier aankom en met ‘n groot glimlag vertrek.”

Johan was ‘n sakeman van Pretoria en het destyds hierdie 60 hektaar bosveldgrond aangeskaf vir ‘n rustige naweekplek. Hy het homself totaal misreken en eers een, later twee en al meer chalets aangebou om hoofsaaklik vriende te akkommodeer. So het die lodge ontstaan. Hulle sit nou met 15 chalets, ruim konferensie- en onthaalfasiliteite en ‘n swembad. Die wild wat voorkom is normaal vir ons omgewing; koedoes, njalas, rooibokke, blesbokke, blouwildebeeste en ‘n verskeidenheid kleinwild. Hy is permanent hier en hy geniet dit. Sy liggaamshouding sê so wanneer hy entoesiasties praat oor die verskillende aktiwiteite wat hulle aanbied vir die verskillende gaste se uiteenlopende behoeftes. Daar is watergate waar mense die diere en voëls ongesteurd kan dophou vanuit vier boogskuilings. Vir die konferensiegangers is daar ‘n hindernisbaan waar hierdie mense van hulle frustrasies kan gaan ontslae raak en die plek het selfs ‘n frisbee gholfbaan! Die hengelaars kan hulle ook gaan geniet by die dam waar die vis op ‘n duidelike ‘vang en loslaat’ beginsel gevang kan word. Hulle bied ook vir die gaste ‘n twee ure wildsbesigtigingsroete aan met ‘n trekker en sleepwa. ‘n Redelike dinamiet-pakkie van ‘n plek.

Die chalets maak mens lus om daar te gaan bly. Nie klein nie – die regte woord is ‘n knus plek met ‘n dubbelbed en en suite badkamer. Johan glimlag wanneer ons hom uitvra oor watter tipe gaste hulle kry. “Hierdie is ‘n snaakse industrie,” sê hy terwyl sy brein duidelik terugdink. “Geen mens of groep is dieselfde nie. Indiwidue of groepe. Hulle het uiteenlopende behoeftes. Sommige wil aanmekaar onthaal word en sommige sien jy net wanneer hy hier aankom en vertrek.” Die meeste gaste verlang die rustige bush experience. Ons dink hy slaag daarin want die plek gee ‘n vertoon van rustigheid so tussen die inheemse bosveldbome.

Ons het daarvan gehoor en vra hom toe daaroor uit. Terughoudend bieg hy dat hulle graag betrokke geraak het by twee welsynsprojekte; ‘n kersboom vir kinders van die CMR en ‘n funksie na Paasfees vir die ‘Herfies,’ ‘n ouetehuis by Hartbeespoortdam. Ons hou daarvan om dit te hoor.

Enige toekomsprojekte? Hy het nog planne vir die toekoms maar wil nie graag daaroor uitwei nie. Ons gaan verseker terugkom om te sien wat in die visier is.

‘n Baie oulike plek – enige mens gaan daar tuis voel.

Redakteur Russel de Beer wys vir buitelandse gaste die mampoerproses.
Redakteur Russel de Beer wys vir buitelandse gaste die mampoerproses.
Gasvrouens Beatrix en Celeste van Golden Hours.
Gasvrouens Beatrix en Celeste van Golden Hours.
Elna van Blink Boer vermaak die gaste
Elna van Blink Boer vermaak die gaste

Goeie genugtig – wat ‘n ervaring! Ons by Blink Boer het gewys dat ons ook talent het. Op ons inisiatief het ons Golden Hours of Tant Nollies gaan oorneem en behoorlik drooggemaak!
Continue reading Mampoerstook en Braaidag