Agter Elke Boer . . .

Vrouens speel net so ‘n belangrike rol in die landbou sektor as mans. Daar is wel nie soveel vrouens wat fisies self boer nie, maar daar is baie vrouens wat agter hulle mans staan en orals help waar hulle kan.

Dan is daar ook ‘n ondersteunende ma wat haar kinders van kleins af die regte paaie gewys het om te gaan en die boer die man gemaak het wat hy vandag is. Die ma van ‘n suksesvolle boer speel ook ‘n belangrike rol. Sy het hom geleer van kleins af waar sy wortels lê, hoe om sag met ‘n vrou te werk en al sy goeie maniere kom hoofsaaklik van die ma af. Geen boer kan sê dat sy ma nie ‘n groot invloed in sy lewe gehad het nie.


‘n Boer se ma moes op haar tande byt deur die jare. Dit is nie altyd maklik om ‘n seun groot te maak nie. Stoute kinders gee altyd vir ‘n ma grys hare! Lizeth Riekert, wie ‘n suksesvolle skoonheidssalon vanaf haar huis bestuur en ook getroud is met ‘n boer, het vir Blink Boer vertel hoe belangrik ‘n vrou se rol in landbou is.

‘n Boer het baie stres. Boerdery is die grootste dobbelspel wat mens kry. Hy sit baie geld in die oeste in en daar is altyd ‘n moontlikheid dat dit ‘n misoes kan wees, veral ook na die onlangse droogte. “ ‘n Boer het nie net die stres van om goeie oeste te lewer nie. Hy het ‘n vrou en kinders wat hy voor moet sorg en wat afhanklik is van hom. Dis baie belangrik dat ‘n vrou haar man ondersteun al is dit moeilik. Hy gaan sy stres op jou uithaal en dan moet jy net positief bly en weet dat hy dit nie altyd sleg bedoel nie.” sê Lizeth.
‘n Boervrou moet haarself besig hou. Om ‘n huisvrou te wees is nie altyd die maklikste nie. Dit voel party dae of jy mal raak as jy heeldag by die huis sit. Kry vir jou ‘n stokperdjie om jouself besig te hou. Dit is ‘n goeie manier om ontslae te raak van die stres. ‘n Boervrou het gewoonlik altyd iets om te doen. Daar is baie dinge wat kan opduik. Dalk moet jy gou vinnig koöperasie toe ry om die dringende goed te koop vir daai pyp wat nounet gebars het.
Vrouens doen ook gewoonlik die administratiewe gedeelte van die boerdery. Die boerdery sal tot ‘n afgrond kom as die boer self sy eie papierwerk moet uitsorteer. “Prys eerder jou man voordat jy vir hom kwaad raak omdat hy heeldag besig is en min tyd saam met jou spandeer.” vertel Lizeth, “Die heel belangrikste is om vir hom te bid. Bid vir ‘n suksesvolle oes en bid vir jou man. Daar is niks sterker as ‘n vrou wat vir haar man bid nie,” sluit sy af.