ALBINISME KOM OOK VOOR IN DIERE!

Die albino-gorilla Sneeuvlokkie is in die jare sestig in ’n woud in Ekwatoriaal-Guinee gevind en het in sy jare in gevangenskap die pa van 21 baba-gorillas geword (waarvan geeneen ’n albino was nie).

Sneeuvlokkie was ’n groot aardigheid—en wêreldberoemd. Maar dié gevierde wit gorilla van die dieretuin in Barcelona, Spanje, is tragies dood ná 36 sensasionale jare in die dieretuin.  

In sy laaste sowat twee jaar het Sneeuvlokkie egter só aan velkanker gely dat die dieretuinamptenare hom uiteindelik uit sy ellende verlos het—tot groot hartseer van baie diereliefhebbers regoor die wêreld. Die gorilla, ’n groot ster van Barcelona se dieretuin, het die kanker aanvanklik in sy regterarmholte gekry.

Sneeuvlokkie se lewe sou bepaald baie anders verloop het as hy nie destyds uit die bos gehaal is nie. Wat meer sê, hy sou waarskynlik vroeg in sy lewe omgekom het, want in die vrye natuur kan albino-diere om verskeie redes gewoonlik nie lank aan die lewe bly nie. Albinisme is een van die natuur se dikwels nare grille. Dit tref mens, dier en plant, en meermale met rampspoedige gevolge.

Albino’s kan geen pigment in hul organe produseer nie. Pigment is ’n kleurstof in die weefsels van lewende organismes. By menslike albino’s beteken dit ’n uitsonderlike bleek vel en wit hare. Egte albino-diere het ook spierwit pelse, vere of skubbe, asook rooi of pienk oë… soos Sneeuvlokkie.

WAT die mens betref, kom die afwyking by een uit elke 20 000 blankes voor en by een uit elke 4000 swartmense. Die groot las vir sulke mense is baiemaal swak oë en dan natuurlik ontsettende velprobleme.

Son is hul grootste vyand en as hulle nie gereeld spesiale velmiddels gebruik nie, is kanker (soos by Sneeuvlokkie) dikwels ook hul voorland so teen hul 35ste jaar. Intellektueel skort daar egter niks met hierdie mense nie. Trouens, dit is dikwels amper asof hulle harder werk om uit te blink en só hul gebrek te vergoed. Ook onder byvoorbeeld dokters en advokate is daar albino’s, vertel ’n navorser, wat bewys dat hierdie afwyking ’n mens hoegenaamd nie hoef te beperk nie.

Maar op sekere plekke op aarde, word vertel, word albino’s baiemaal voor die geboorte geaborteer nadat die afwyking met ’n amniosentese gediagnoseer is. Die spot wat hierdie mense moet verduur, skep vir hulle dikwels meer probleme as die las met die oë en vel. Dit is egter noodsaaklik dat ons hulle altyd met deernis sal aanvaar.  

Albino diere word gewoonlik deur ander diere van hul soort verwerp. Omdat hulle so opvallend is, kan hulle immers die aandag op die trop vestig. Hulle is gevolglik dikwels alleenlopers wat maar self die mas moet probeer opkom—en aangesien hulle nie die trop se beskerming geniet nie, lewe hulle baiemaal ook nie lank nie.

Pigmente sorg boonop vir ’n beskutting teen die son se strale en die albino’s is dus gevoelig vir lig. Baie merkbaar is ook die rooi of pienk oë. Die oë lyk so omdat die bloed in die vate van die iris (die gekleurde deel van die oog) sigbaar is, terwyl die pigment in die iris van ander diere normaalweg die bloedvate wegsteek.

Voorts speel kleur ’n beduidende rol in die seksuele aantrekkingskrag tussen mannetjies en wyfies in die diereryk. In paartyd gebruik baie diere, gewoonlik die mannetjies, hul helder kleure om wyfies die hof te maak. Albino’s kry egter moeilik maats.  

Die spesifieke pigment wat hier afwesig is, word melanien genoem. By nie-lyers is ’n songebruinde vel die gevolg van ’n stimulasie in die produksie van melanien. Dit is interessant dat rooi hare veroorsaak word deur ’n spesiale rooi pigment, wat met melanien meeding. Mense wie se hare erg rooi is, produseer baie min melanien. Dit is waarom hulle ook so maklik brand wanneer hulle in die son kom.

Die teenoorgestelde van albinisme is melanisme. Net soos die spierwit vorms wat sporadies voorkom, is daar ook die pikswartes. Die haarbedekking van die luiperd is gewoonlik grondkleurig met talle rosetvormig gerangskikte swart kolle, maar in sommige dele van die wêreld met ’n hoë reënval word ’n pikswart soort aangetref, die sogenaamde swart panter. Die swart panter is dus maar eintlik net ’n melanistiese luiperd.

Egte albino-plante het geen chlorofil (groen pigment of bladgroen) nie en het dus wit blare. Tensy die plant voedingstowwe van elders af kan kry—soos vleisvretende plante maak—vrek hy.

Terwyl pigment geheel en al by egte albino’s ontbreek, kry ons ook plante en diere wat wel pigment in sekere van hul organe kan produseer. Hulle word gedeeltelike albino’s genoem. Die meeste wit hoenders, ganse, eende en perde is gedeeltelike albino’s, omdat hulle nie pigment in hul pote, oë of snawels het nie. Gedeeltelike albino-plante het dikwels geen pigment in hul blomme nie, hoewel hul blare chlorofil bevat.

Albinisme word veroorsaak deur ’n mutasie (die woord wat gebruik word om ’n spontane verandering in die gene aan te dui). Van die vroegste tye af het mutasies onder alle spesies voorgekom en is dit van geslag tot geslag oorgedra.

Partykeer kan sulke spontane veranderings vir die diere voordelig wees, deurdat nuwe eienskappe geskep word wat hul kanse verbeter om te oorleef. Ander veranderings kan weer rampspoedig wee

Volgens betreklik onlangse genetiese navorsing was die ysbere van die Verre Noorde oorspronklik bruin. ’n Mutasie het hulle van kleur laat verander. Die nuwe albino’s het met hul ysige, wit hougebied versmelt. Hulle het gefloreer en vinnig aangeteel en die bruin bere geleidelik vervang.