Balju kan op Zuma se bates beslag lê indien hy nie betaal

nkandla, jacob zuma, ancSuid-Afrikaners sal binne 38 dae presies weet hoeveel geld pres. Jacob Zuma sal moet opdok vir die opgradering aan sy Nkandla-woning, en dié bedrag sal hy binne 45 dae daarna moet betaal om te verhoed dat ’n lasbrief uitgereik word om op sy persoonlike bates beslag te lê.

Dít is die mening van Stefan Pieterse, AfriSake se woordvoerder, nadat die Konstitusionele Hof op 31 Maart 2016 ’n uitspraak gelewer het wat Zuma verplig om ’n gedeelte van die staatsgeld wat by sy privaat Nkandla-woning spandeer is, terug te betaal.

Die hofuitspraak het onder meer bepaal dat –

·        nasionale tesourie binne 60 dae die redelike koste moet bepaal wat spandeer is aan pres. Zuma se besoekerssentrum, amfiteater, veekraal, hoenderhok en swembad (omdat dit nie vir sekuriteitsdoeleindes aangebring is nie);
·        nasionale tesourie die persentasie op elke item daarna moet bereken wat hy persoonlik moet terugbetaal;
·        nasionale tesourie binne 60 dae (ná die hofuitspraak) aan die Konstitusionele Hof oor sy bevindinge moet verslag doen; en
·        president Zuma die geld binne 45 dae moet terugbetaal.

Die volledige uitspraak kan by http://www.saflii.org/za/cases/ZACC/2016/11.html gelees word.

“Die debakel waarin pres. Zuma homself bevind, kon nie op ’n slegter tyd gekom het nie. Die munisipale verkiesings vind vroeg in Augustus plaas – byna dieselfde tyd as wanneer die Nkandla-geld regtens terugbetaal moet word,” het Pieterse bygevoeg.

AfriSake tel die dae af vir nasionale tesourie om die betaalbare bedrag te bepaal, waarna die organisasie ook die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal versoek om te bevestig dat pres. Zuma wel aanspreeklik gehou gaan word vir die belasting op die byvoordele waarmee sy persoonlike boedel gegroei het

“Indien die SAID weier, sal ons die Openbare Beskermer se hulp inroep. Die realiteit is dat die belastingbetalers daarvoor sal moet opdok as pres. Zuma dit nie gaan betaal nie,” het Pieterse afgesluit.