Begrotingsrede 2016: Verbruikers verlig, beleggers nie oortuig nie

budget, begroting, south africa, pravin gordinNa afloop van die begrotingsrede vir die boekjaar 2016/2017 sal die meeste verbruikers ‘n sug van verligting slaak, omdat die minister van finansies, Pravin Gordhan, aangekondig het dat daar geen verhoging in persoonlike inkomstebelasting of in korporatiewe belasting verwag kan word nie. AfriSake is van mening dat die minister egter versuim het om buitelandse beleggers te oortuig om hulle fondse óf aan te hou belê, te herbelê of nuut te belê in die Suid-Afrikaanse ekonomie.

“Die minister het met baie entoesiasme begin, en Suid-Afrikaners en buitelandse beleggers was gretig om te hoor wat hy te sê gehad het. Beleggers is sekerlik nie beïndruk ná ‘n middelmatige poging om hulle te oortuig dat Suid-Afrika steeds ʼn veilige hawe is nie. Hulle het meer verwag ten opsigte van hoe die regering se besteding gemonitor en verminder gaan word,” het Armand Greyling, Regs- en Beleidsanalis van AfriSake, gesê.

Die toename in brandstofheffings, sondebelasting, kapitaalwinsbelasting en so meer was alles te wagte, maar wat baie Suid-Afrikaners sekerlik verras het, was die bekendmaking van ‘n nuwe suikerbelasting en motorbandheffing. Eersgenoemde sal in Maart 2017 geïmplementeer word, terwyl laasgenoemde vanaf Oktober vanjaar sal geld. Hereregte op eiendomsverkope bo R10 miljoen is ook verhoog. Die verwagte toename in die BTW-persentasie is vermy.

Daar is weereens baie melding gemaak van die regering se planne met betrekking tot aspekte soos onderwys, werkloosheid, infrastruktuur, armoede en transformasie. Die huidige droogte was een aspek wat ’n bietjie meer in diepte behandel is wat betref die manier waarop finansiële verligting voorsien sal word vir die landboubedryf en vir gemeenskappe met min of geen watervoorsiening nie.

“Dit was goed om hierdie sosiale probleme onder die loep te neem en te verduidelik hoe en wat finansieel gedoen gaan word om ‘n paar van die kwessies te hanteer wat met elk van hierdie probleme gepaard gaan, maar dit is langtermynoplossings wat spesifiek gemik is op Suid-Afrikaners. Wat buitelandse beleggers wil sien, is korttermynoplossings wat hulle nou sal baat en daarna hul vertroue sal bou vir langtermynbeleggings.”

“Die regering het hom verbind tot die beperking van onnodige uitgawes deur koste te bespaar op reise, voertuigaankope en die heronderhandeling van kontrakte. Dit moet nog gesien word hoe ver regeringsbesparing sal strek en hoe ernstig die ANC daaroor is om ‘n voorbeeld te stel. Een ding is seker, en dit is dat globale graderingsagentskappe die begrotingsrede baie fyn sal bestudeer, omdat Suid-Afrika nog oor die hekkie moet kom van die vermyding van rommelstatusgradering,” het Greyling gesê.

In wese kan Suid-Afrikaners ‘n sug van verligting slaak, maar hoe groot die impak van die begrotingsrede op ‘n globale skaal vir buitelandse beleggings was, blyk uit die wisselkoers van die Rand teenoor die Amerikaanse Dollar, wat die hoogte ingeskiet het tydens en direk na die toespraak, en waarskynlik so sal voortgaan vir ‘n geruime tyd.