Berei Jou Tuin Voor Vir Die Winter

winterWinter eis gewoonlik sy tol op plante, veral in areas waar dit kouer as die gemiddeld is. Ook in warmer areas kan die wintermaande hard wees op plante. Net omdat koue weer op hande is, beteken nie mens hoef glad nie te plant nie. Volgens kundiges, is die winter die beste planttyd vir meeste plante. Die plant se sappe vloei nou stadiger, maar plante vestig hulself beter, met hul metabolisme wat eers weer in die lente optel.

Hoewel plantvoeding in die winter afgeskaal moet word, is kompos baie belangrik. Mens gooi dit sommer bo op die grond. Dit isoleer die plante teen die koue. Indien ys op plante gevorm het, moet dit nie met water afspuit nie, omdat dit meer skade verrig. Water moet ook nie in die laat middag of in die aand gegee word nie, want dit kan die wortels laat vries.’n Goue reël om in wintermaande te onthou is om nie te vroeg te snoei nie, omdat dit groei stimuleer.


Daar is ook veel meer wat jy kan doen om jou tuin deur die winter te laat oorleef. Jy kan potplante en plante skuif wat hou van hitte na binne, of na ‘n bedekte stoep. As koue-sensitiewe plante in die tuin groei of te swaar is om te beweeg, bou ‘n raam rondom sodat jy dit met goiingsakke of ander beskermende materiaal kan oortrek. Wanneer die raamwerk gereed is, kan jy saans vinnig die bedekking oorgooi.

Onthou net om dit weer soggens te verwyder, want in die warm son van die dag, kan plante weer brand. Plante het minder water in koue weer nodig. As jy wel natlei, maak seker die water is nie té koud nie – dit kan die plant se wortels skok. Berei nou gate voor vir rose wat jy in warmer maande wil plant. Wat huisplante betref moet ‘n paar belang- rike wenke in gedagte gehou word.

Met die grou dae van die winter, kan binnenshuise plante nogal ‘n mens se dag ophelder. Vir ‘n sprankelende binnetuin is kunsmis, lig en lug, asook verhitting, water en reiniging baie belangrik. Binnehuisplante met blare rus in die winter, dus is dit nie nodig om dit te bemes nie. Winter is egter die groeiseisoen vir knolplante wat in die lente groei, soos affodille en hiasinte asook plante soos poinsettias, krisante en begonia.

Voed dié plante elke twee weke met vloeibare kunsmis en gee hulle elke tweede of derde dag water. Meeste huisplante het goeie, indirekte lig nodig – nie direkte sonlig nie. Draai die plante gereeld om te verhoed dat dit skeef groei. Moenie plante by ‘n venster sit wat suid front nie. ‘n Noorde-venster (met gordyne om te verhoed dat die plant brand) is beter.
Baie huisplante het hul oorsprong in tropiese gebiede en verkies dus eerder warmte. In koue areas en kamers wat met verwarmers verhit word, gaan die plante ekstra humiditeit benodig. Spuit plante liggies met louwarm water om dit effens klam te hou. Gebruik louwarm water aangesien jou plante dit makliker absorbeer.

Deur die loop van die jaar gaar plante stof op, wat die blaar se porieë kan verstop. Stof van bo na onder af. Kleiner plante kan liggies met louwarm water afgespuit word, terwyl ‘n warm, nat lap vir groter plante gebruik kan word. Met die oog op die dieper winter maand is Junie ‘n goeie tyd om plante in groter potte oor te plant. Groei wortels onder by die pot uit? Is die nuwe blare kleiner as bestaande blare? Word die plant vinnig droog? Indien wel, is jou plant reg vir ‘n nuwe pot.