BESSIEBOERDERY SKEP WERK EN WORD ‘DIE MODE’

Sedert 2013, het Suid-Afrika besluit om bessieboerdery te ondersteun. Die regering het op bessieboerdery as ‘n ekonomiese dryfkrag gemik in die Oos-Kaap en in verskeie ander provinsies in die land. Die regering beskou inderdaad bessie-vrugte as ‘n goeie belegging en ‘n sprong van volhoubaarheid wat die ekonomie betref. Daar is verskillende inisiatiewe in plek gestel soos die “Berry Corridor.” Dit mik om oor 500 ha van bloubessie oeste in die Oos-Kaap tot stand te bring by die jaar 2020. Dié ontwikkelende inisiatief saam met die regering se pogings sal gevolglik tot werkskepping lei.

Die voordele is ontelbaar as dit by bessies kom. Dit is wel n arbeidintensiewe verbouiing met vele ‘hakkies’ wat oorkom moet word, maar die ‘vrugte’ daarvan is – juis letterlik en figuurlik – wel die moeite werd.

Die mark is ook al redelik ryp, al profeteer die doem-profete oor ons ekonomie in Suid-Afrika. Die punt is mense gaan nooit ophou bessies eet, gebruik in geregte en hulle gaste wat hulle wil beïndruk verlei met bessie lip-lekende nageregte soos die bekende Britse (en vir die oningeligtes, nie ons Brits nie, daardie klomp wat ons so dikwels as ‘rooinekke’ ken – hoop ons Engelse lesers kan ‘n grap vat) ‘strawberries and cream.’ Of jou ouma of oer ouma nou wel van die Engelses gehou het of nie (laat ons nou nie op daardie politieke ‘memory lane’ verdwaal nie) is dit vinger-lek lekker!

En, volgens die nuutste prysaanwysers en die hangende droogte in ons land wat dit beïnvloed, het die waarde vir bessies en kos oor die algemeen verhoog. So, om voedsel te bespaar en tegelyk dalk ‘n ekstra inkomste te verdien, is dit ‘n welmenende idee om jou eie groentetuin te begin. Die kinkel in hierdie kabel lê daarin dat dit nie ‘n gewone groentetuin moet wees nie maar wel ‘n ‘bessie-tuin.’

Dit moet ook in berekening kom dat die waarde van bessie soos arbeie, frambose, bosbessies ens. baie meer is as die van gewone ander verskillende groentes en vrugtes. So dit keer niemand om met ‘n bessie-tuin in hulle agterplaas of sommer in potplante buite die huis te begin nie.

‘n Nuwe eet en dieët-mode is ook die ontstaan van bessie-‘smoothies’ wat wel die voordele van anti-oksidante en proteïene verenig. Die anti-oksidante help met gewigsverlies en die proteïne met spierbou. Dit is nogal ‘n treffer met die opkomende jong ‘born-free’ geslag van spierbouer spiertiere en “gym bunnies.” Op die einde van die dag besef ons nie dat dit wat ons liggame nodig het lê eintlik reg onder ons voete – in die grond. En wat dit nog verder bevestig is die uitstekende voedingswaarde wat ons daaruit kry deur ‘n bessie-besaaide dieët.

So, van die os op die wa – van besigheidsinisiatiewe tot jouself te oortref deur jou mees vooraanstaande gaste met heerlike sagte vrug gebakte te bederf, tot die feit dat gesond eet, gesond leef, jonk bly en goed voel, asook jonk en goed lyk bo aan jou lys is vir n sprankelende begin in jou nuwe jaar – bly bessies die groot bobaas!