Blommeboer van formaat – Wim van der End

Ons het hom gekry! ‘n Man wat nie vir sy vrou blomme gee nie en hy is nie in die moeilikheid nie. Hierdie gelukkige man is Wim van der End, eienaar van Jotimaflora en Amaranta Flora. Jotima is tussen Wagpos Hoërskool en Rashoop met 10 tonnels vol blomme op daardie 5 hektaar. Amaranta beslaan 7 hektaar met 16 tonnels.

Hierdie boorling van Holland is aangenaam, vriendelik en gesêls onderhoudend oor sy vakgebied – blomme, spesifiek krisante. Ons verduidelik dat die wereld daar buite vol mismoedigheid is, die droogte is hoofsaaklik die rede en ander dinge hap-hap ook maar aan die hakskene. Hy glimlag en vat onmiddellik raak: “So my blomme moet die spirits so bietjie optel?” Inderdaad, na die kuier was die spirits opgetel en dit was werklik stimulerend om so tussen die blomme deur te loop en ‘n suksesverhaal van nader te aanskou.

“My vrou en ek het 24 jaar gelede hier aangekom en die droogte was omtrent dieselfde as nou. Ek onthou dit nog baie goed. Om eensklaps van die koue van Holland in die bakoond van Johannesburg te stap was nogal ‘n ervaring,” sê hy met ‘n groot glimlag. “ Ons sou net tydelik kom om op hierdie plaas, Safropa, te kom uithelp. Dinge het totaal anders uitgewerk, ons het Jotimaflora gevestig en 5 jaar later hierdie plaas gekoop. Suid-Afrika se waardes het ons geval en hier is ons.” Hulle het drie kinders, Joy, Tim en vrou Marolene en Mark en almal is betrokke by die boerdery. So met die familie saam gaan dit goed. Marian en Joy hanteer elkeen ‘n blommewinkel en die twee seuns boer aktief saam met pa. Enige familietwiste? “Gladnie, in die dag praat ons oor die besigheid en na-ure is dit net familiesake,” sê hy met oortuiging. Sy liggaamstaal sê dat hy trots is op sy familie.

Wim noem dat mens ‘n aanvoeling moet hê om met blomme te boer. Spesifiek ‘n krisant is ‘n moeilike blom om te groei. Hierdie blom verskil in variëteite, kleur, groottes en vorm. Bekendes is die daisy, spider en anemoon. In Holland is daar ‘n santini wat ‘n klein blommetjie is, maar dit kry geen aftrek hier nie. Die krisant is intensief en sensitief om mee te boer. Hulle noem dit ‘n kort-dag plant wat beteken dat die plant 13 ure donkerte per dag nodig het om te blom. Die volwasse blom hou ook redelik lank – ongeveer 14 dae in die somer en ‘n maand in die winter.

Hulle het deur die jaar blomme. In kort kom dit daarop neer dat elke week ‘n tonnel geplant word en elke week word ‘n tonnel geoes. Een derde van die oes word verpak vir die uitvoermark, die ander derde vir groothandelaars en die laaste derde vir Multiflora, die mark in Johannesburg. Daar is in totaal agt krisantkwekers in Suid-Afrika. Die meeste is in ons omgewing omrede die markte hier is. ‘n Interessante statistiek is dat daar 120 miljoen krisante per jaar gekweek word, waarvan hulle 45 miljoen lewer. Maak dit julle die grootste boerdery? “Nee, die tweede grootste,” antwoord hy beskeie. Hy noem dat die stiggies van Uganda en Tanzania afkomstig is en dit word in ‘n groeimedium, wat hulle plaaslik kry, geplant.

So ‘n geblomplantery verg natuurlik baie beplanning. Wanneer is dit hoogseisoen by julle? “Ek praat graag van die vier groot feesdae waarvoor ons voorsiening maak. Die grootste is moedersdag. Dit gaan oor massas en kleur speel nie eintlik ‘n groot rol nie. Valentynsdag se behoefte is pienk en rooi en Kersfees is die behoefte weer wit, rooi en groen. Lentedag het weer nie spesifieke kleurbehoeftes nie,” sê hy sonder om diep te dink.

Wat se raad het jy vir ‘n nuwe potensiële krisantboer? Wim sit ‘n oomblik en duidelik laat hy sy gedagtes gaan. Afgemete sê hy: “Kyk daar is geld te make met ‘n blomboerdery. Die goue reëls van enige besigheid is hier van toepassing. Dit is beheer, bestuur en ‘n 24 uur betrokkenheid. ‘n Blomboer moet ook begeesterd wees. Ek sou reken dat ‘n ekonomiese eenheid nie kleiner as 3 hektaar moet wees nie. Maar ek dink ook dat die mark redelik versadig is.”

Wat gee jy vir jou vrou met ‘n spesiale geleentheid? Die vraag haal sy middelpen uit – skoon geboul! Hy het iets gemompel van tjoklits of so iets, maar ons het hom nie mooi gehoor nie.

3 thoughts on “Blommeboer van formaat – Wim van der End

  1. Greate pieces. Keep posting such kind of info on your blog.

    Im really impressed by your blog.
    Hey there, You’ve done a great job. I’ll definitely digg
    it and individually suggest to my friends. I’m confident they will be
    benefited from this web site.

Comments are closed.