Boer Ouma Se Brou Spens

BB-14 pdfOns almal ken ‘n oulike maar skerp tong ouma wat altyd boere raad het vir elke kwaal en jou onmiddellik boeretroos en beskuit aanbied sodra jy oor haar deur drumpel voet sit.

Sy is grys, oud en baie wys – maar al is mens hoe oud glo jy amper nogsteeds dat sy oë agter haar kop het – dis soos ‘n onbewuste sein wat intuïtief weet wanneer jy af is of as dinge nie goed gaan nie. Jy kan waag skynheilig terug groet met ‘n “dit gaan goed ouma.” Dan sal sy reguit in jou oë staar en jou mooi laat verstaan jy flous haar nie.

O ja – sy bederf ook die klein kinders graag en keer as ma en pa pak wil uitdeel – ek is seker ons almal kan ons vereenselwig met die ‘wise old woman’ as argetipe in ons menswees. Dis die tante wat jou troos na ‘n hartbreek ellende, of jou net die regte raad gee wanneer jy nie meer weet watse kant toe nie. Sy is soos ‘n tweede ma – die een met wie jy dinge bespreek wat jy nie met jou eie ma bespreek nie – dit kan net ouma wees…


Met hierdie uitgawe wil ons boer-ouma in die kollig sit – al haat sy die publisiteit, want dit wat sy doen doen sy opreg uit haar hart uit sonder om terug te verwag nie. Daar is spesiale dae soos moedersdag, vadersdag, vrouedag en tot ‘Movember mustache month’ waar mans hulle baarde laat uitgroei ten bewustheid van prostaatkanker.

Maar daar is nie ‘n besonderse dag uiteengesit vir ouma nie. Ons as die Blink Boer span wil in hierdie uitgawe vir ons geliefde boer-oumas sê ons is lief vir julle en waardeur julle van harte. Maar nou laat ons uitkom by nog ‘n rede hoekom ons vir boer-ouma so lief het. Ouma se brou spens is die beste ooit. Van ingelegde- vrugte en southappies, tot beskuit en gemmer- en pynappel bier. En dit wys ons ouma kan ook stout wees want partykeer het haar ‘oumalikke’ bier ‘n herrie se skop!
Ouma se vars tuisgebakte brood en heerlike koeke en terte is ook soos heunings-manna van die boonste rakke. ‘n Mens kan seker ‘n gemiddelde koek koop by die winkels of supermarke, maar niks kom naastenby ouma sin – “die verskil is dit is met liefde gemaak,” sal sy glimlag. En brou en bak is nie vir ‘sissies’ nie, as jy nie ouma se knie vaardigheid besit nie gaan jy nogal sukkel – maar haar vetkoeke is nou regtig iets om oor vuis te slaan (nou blink ‘n mens se gedagtes terug as kinders na die gestry oor die laaste gebakte aartappel in die pan).
Een belangrike aspek van ‘n regte egte boer-ouma is dat sy haar kinders en kleinkinders leer en lei as voorbeeld na Gods woord. Dit is gewoonlik ouma en oupa wat aandring op boeke vat en huisgodsdiens. Ouma is baie keer onbewustelik die mondstuk deur wie die Heer ons wil maan op ons lewenspad. So, as jy vandag nog bevoorreg is om so ‘n boer-ouma in jou lewe te hê – gaan kuier bietjie gerus by haar en ontspan onder ‘n ‘Deborah van ouds’ se palmboom. Sy is waarlik soos ‘n oase in ‘n dorre land.