Brits Krokodilboerdery – Kobus Venter

 Kobus Venter – krokodilboer van formaat

Kobus Venter – krokodilboer van formaat

Net buite Brits, op die Thabazimbi-pad is hierdie fonds van krokodille op die linkerkant. Kobus en Rienie Venter ontvang ons vriendelik en dadelik begin die gesprek oor krokodille.

Hierdie is ‘n normale boerdery – die orde is opvallend asook die indrukwekkende spul krokodille in die verskeie kampe. Hierdie oerdiere sou nooit ‘n plek in ‘n skoonheidskompetisie kon wen nie. Wat eerste opval is die gordels – noem dit sommer belde – en handsakke wat een hoek van die sitkamer/kantoor beslaan. Kobus glimlag oor die vraagteken op ons gesig. “Hierdie is ‘n verdere uitvloeisel van ons beleid om die produk ten volle te gebruik. Hierdie rugvelle het geen mark nie en nadat ons dit van die looiery terugkry maak ons hierdie produkte op die plaas, selfs geweerbelde is baie gewild,” sê hy. Die produkte is regtig uniek en sonder om te vra kan Rienie se hand duidelik hierin gesien word. Al die items word plaaslik bemark – hoofsaaklik aan kiosks.

Daar is heelwat krokodilboerderye in die land en ons wil weet hoe hierdie projek begin het. Dit is regtig lekker om na ‘n kundige te luister en Kobus verduidelik dat hy sowat 12 jaar gelede hierdie as ‘n goeie besigheidsgeleentheid raakgesien het. Hy het ook besef dat dit ‘n langtermyn bedryf is want dit vat ‘n wyfiekrokodil 10 jaar om die eerste eiers te lê. Hy het met 80 wyfies begin. Hulle het nou 670 wyfies en 133 mannetjies. Die ideale verhouding is 6 wyfies per mannetjie. Hy het nog ‘n plaas aangekoop en nou is daar 800 teelkrokodille in produksie. Tussen die twee plase is daar nou 30,000 groeikrokodille! Geen wonder dat hierdie een van die topplase van ons omgewing is nie.

Die gesprek is nou lekker aan die gang en Kobus neem ons stap-vir-stap deur die proses. ‘n Wyfie lê tussen 40 en 80 eiers per jaar. Sy is ekonomies wanneer ‘n minimum van 35 velle hieruit geoes word. Die eiers gaan dan na ‘n broeikamer vir 90 dae en dan begin die grootmaak. Na 3 jaar is die krokodil reg vir die mark. Baie interessant noem hy dat die temperatuur in die broeikamer die geslag van die krokodille bepaal – 28ºC gee wyfies en 32ºC gee mannetjies. In die natuur bepaal die wyfie self die geslag omdat sy weet dat die onderste en boonste gedeeltes van die eiers verskeie geslagte oplewer. Geen wonder dat hierdie diere so lank oorleef nie.          1

Die pensvelletjie is wat die mark wil hê – handsakke, beursies, gordels en skoene vir die eksklusiewe mark, met ander woorde boutiques. Die ideale grootte van die vel is 36cm tussen die skouertjies en die produkte gaan na Klein Karoo in Oudtshoorn en die oorsese markte. Die prys is nou goed as gevolg van die swak rand teenoor die dollar. Die vleis word deur goedgekeurde slagpales bemark.

Skielik kom ons op ‘n baie interessante ding af. Kobus is eers huiwerig, maar na ‘n gepor kry ons die storie uit hom uit. Hy maak diesel – bio-diesel om presies te wees! Die agtergrond is dat hulle mortaliteite van hoenderboerderye en slagpales kry om die krokodille te voer. Die oortollige vet van die hoenders word afgesny voordat dit aan die krokodille gevoer word en hy het iets raakgesien. Saam ‘n familielid het hulle begin eksperimenteer deur die vet verder te prosesseer en die eindproduk is diesel! Hulle is nog besig met toetse en in kort kom dit daarop neer dat die vet ‘n hele aantal liters diesel oplewer. Al sy trekkers is op die produk en dit werk. Ons belangstelling is behoorlik geprikkel en ons gaan weer kom kuier – hoe klink ‘n bordjie “Chicken Diesel at wholesale prices”!

Hierdie besoek het maar weereens gewys dat ons trots kan wees op ons boere. Hulle aktiwiteite is wyd, baie wyd en hulle verhale is sukses op sukses.