Brood – sal dit ooit uitsterf?

Tienie Hattingh
Tienie Hattingh

Vanaf bybelse tye word daar van brood gepraat. Vandag kan mens enigeen vra en enigeen weet van brood. Stapelvoedsel. Noem net vars brood en jam en al wat ‘n mond is water.

            Hier by ons in Madibeng volg ons die hele broodproses. Vanaf die koring – ons het dit by Coen van den Berg gesien – deur die meule en tot by die bakker soos Tienie.

Tienie Hattingh bak brood nou al vir 5 jaar lank. Nie net brood nie maar ook verskeie lekkernye soos koeksisters, tertjies en talle verwante produkte. Op die Thabazimbi-pad, nie vėr buite Brits, is die Bakgat Tuisnywerheid waar Tienie homself uitleef. Hy het al verskeie dinge dinge in die verlede gedoen, geboer, die slagterwereld betree en het eindelik sy passie gevind. Hy is ‘n bakker, ‘n baie goeie een daarby. Sy brode kan beskryf word as die regte, tradisionele brode soos ons dit van kleintyd kan onthou. Smaaklik, lekker en kwaliteit. Elke oggend word daar brood gebak en die broodkopers groei omtrent op ‘n daaglikse basis.

Sal brood ooit uitsterf? Die antwoord is eenvoudig. Hoegenaamd nie met mense soos Tienie in die omgewing nie. Dit bly maar lekker.