Die Boer – Die Jagter en Saamwerk

huntingAs dit by jag kom is dit belangrik dat die jagter en die boer of liewers grondeienaar saamwerk om die jag ervaring die beste te maak vir altwee partye. Ons bepreek hier hoe ‘n ideale jagtog hoort te volg, die nagmerries wat kan volg en wat almal kan doen om dit vir mekaar ‘n plesier te maak. In die jagter se oë is die ideale boer seker een wat uit sy pad gaan om die dag aangenaam te maak vir almal, sonder om ’n oorlas van homself te maak. Hy moet ook besef die manne is daar om die jag te geniet. Die lewe is darem nie net besigheid nie.


Die ideale jagter – uit die boer se oogpunt – is een wat sy bok mooi uitsoek, dit met een goeie skoot doodskiet, die helpers ’n redelike fooitjie in die hand stop, sy rekening met ’n glimlag betaal en ’n vinnige biertjie sluk voordat hy huis toe ry om sy vleis self te gaan bewerk. Daarteenoor kry ’n mens die jagters wat net te haastig is om klaar te maak. Hulle wil so gou moontlik ’n bok skiet, ’n dop drink, die bok laai en maak dat hulle wegkom. Daar is ook die ouens wat net eenvoudig te raserig is en half onverskillig en gevaarlik voorkom. Selfs informele jagtogte verg die nodige respek en veilige optrede van die jagter, asook kommunikasie met die boer en goeie voorbereiding. Omdat biltongjag nie geskrewe reëls of selfs ’n gedragskode het nie, kan ’n aangename uitstappie in die natuur maklik ontaard in ’n nagmerrie – vir jagter en grondeienaar. Soos op enige sportveld neig dinge om in kritieke stadiums van die wedstryd skeef te loop. Byvoorbeeld, láát in die middag kwes iemand dalk ’n mooi bul wat dan oor die heining spring en op die buurplaas verdwyn – net mooi wanneer die manne die vuur wil opsteek.
Erger dinge kan ook in die jagveld gebeur – soos ’n besering of ’n skietongeluk. Om ’n ideale dag in die veld te skep behoort die jagters sowel as die boer eerstens alles te doen om die moontlikheid vir onsmaaklike gebeure te beperk. Jag is dalk ’n sport, maar dit is ernstiger as ‘sports.’ Fyn beplanning en doelgerigte, veilige optrede is definitief nodig. Nes in gholf moet elke jagter sy eie skeidsregter wees, terwyl die grondeienaar wat die jag aanbied, voorbereid moet wees op moontlike haakplekke of gevolge van haakplekke – en hulle kan hanteer wanneer hulle opduik. Jag is nie ’n goedkoop tydverdryf nie. As ’n mens die reiskoste ook insluit, kos die uiteindelike biltong en wors ’n astronomiese bedrag per kilogram.
Wees dus bereid om te betaal vir die geleentheid, want daar is nie so iets soos goedkoop jag nie. Sommige jagters meen dat boere hulle uitbuit met buitensporige pryse, maar talle boere wat biltongjagters ontvang, is eintlik veeboere wat jag net as ’n ekstra inkomste gebruik en probeer sorg dat die wild darem hul plek op die plaas verdien. Onthou, wildsbokke ding mee met skape, bokke en beeste om kos en water en hul getalle moet beperk word. Die jagtog self kos ook vir die boer geld ten opsigte van sy eie tyd, en dié van sy werkers, sowel as die gebruik van sy voertuie en ander geriewe. Soms word daar op een dag so min wild geskiet dat die jagtog skaars die moeite werd is vir hom. Uiteindelik is die groot toets vir ’n suksesvolle jag eenvoudiger as almal – boer, jagter en helpers – die aand lekker gaan slaap en tevrede opstaan.

Hier gee ons ‘n paar wenke wat die jagter in gedagte moet hou. Stel vooraf vas presies wat die pryse is en of dit geld vir ’n bok met die vel aan, of afgeslag en maak seker jy weet wat die dagtarief alles dek en hoeveel jy die helpers, gidse en slagters moet betaal. Maak seker jy weet presies waar die plaasgrens is; onthou, deur swak te skiet of swak oordeel aan die dag te lê, kan jy almal se pret bederf en moenie ’n ongenooide gas of meeloper saambring nie. Onthou om ‘n paar oefenskote te skiet en stel jou geweer in op die skietbaan voordat jy op die plaas kom – wees uiters veiligheidsbewus – ’n geweerkoeël trek ver!

Hier is ‘n paar wenke aan die boer om die jagtog te vergemaklik. Moenie sommer goedsmoeds aanvaar al die besoekers weet wat jy van hulle verwag nie, kommunikeer jou reëls en verwagtinge. Hou in gedagte om nie meer jagters in die veld toelaat as wat veilig en hanteerbaar is nie. Maak seker dat die jagters wat wel opdaag, goed kan skiet, goed toegerus is, en die nodige lisensies het – en dat almal ’n vrywaringsdokument onderteken. Onthou ook dat hulle die nodige dokumente vir die vervoer van wildsvleis moet hê. Maak seker almal weet wat geskiet mag word en wat nie.

Jy wil nie agterna uitvind iemand het ’n dragtige ooi of ’n jaaroud rammetjie platgetrek nie. Tensy jy voor die voet laat skiet, natuurlik. En, verskaf genoeg helpers en gidse om te verseker dat bokke vinnig “oopgemaak” en na die slaggebiede vervoer kan word. Wees eerlik met die jagters rakende die hoeveelheid wild op die plaas – veral nader aan die einde van die jagtyd wanneer die groot bulle en ramme skaars kan wees. Bo alles – geniet dit!