Die Kinderhoek. Diere se tande – wat hulle eet en hoe om hulle tande op te pas

Mondsiektes is die algemeenste gesondheidsprobleem wat veeartse by volwasse honde en katte diagnoseer. Dit veroorsaak bloeiende tandvleis, tandbederf, die verlies van tande en die opbou van bakterieë wat jou troeteldier se hart, lewer en niere kan beskadig. Jou hond of kat se vrot asem is dalk die eerste teken van ‘n mondsiekte. Jy kan self jou dier se tande skoonmaak deur dit te borsel of ‘n spesiale kos te gee wat die tande skoonmaak terwyl hy eet. Dié kos is maklik en doeltreffend, en dis bewys dat dit plaak en tandsteen beveg. ‘n Sterk immuunstelsel sal jou troeteldier help om siektes te beveg, en daarom is dit ook belangrik om seker te maak die kos wat hy of sy kry, bevat die regte voedingstowwe en is ryk aan antioksidante, vitamiene en minerale.

cat

As jy enige van die volgende simptome sien, moet jy dadelik ‘n dierearts raadpleeg: slegte asem; rooi, geswelde tandvleis; ‘n geelbruin tandsteenkors al langs die tandvleis; pyn of bloed as jy aan die tandvleis of mond raak; ‘n verandering in eetgewoontes of die manier waarop die dier kou; vryf met die poot in die gesig of mond en lusteloosheid. Kry by jou veearts meer inligting oor behoorlike tandsorg vir jou troeteldier asook kos wat die tande skoon hou terwyl hulle eet. Diere se eetgewoontes kom ooreen met hulle tande. Karnivore het skerp tande om vleis te kan verteer, herbivore het weer breë, plat tande om pante materiaal te kan maal, en omnivore ‘n samestelling van die twee.

“Die kinders tel al weer tande,” is veral in die verlede dikwels gesê. Daarmee is spreekwoordelik te kenne dat sulke kinders onwelkome agies in die geselskap van die grootmense was. Maar met ’n regte tandetellery sou niemand nog ooit baie ver kon gekom het nie. Dis immers ’n biologiese feit dat die mens ten minste aanvanklik ’n vaste hoeveelheid tande in sy mond het: in die reël 20 melktande wanneer hy klein is en 32 permanente tande as volwassene. Dog by verskillende diere is dit weer ’n ander storie, en dan is die meeste van die kreature boonop heeltemal anders gebek as die mens. Verskillende diere se tande verskil en ons kan baie te wete kom van ’n dier se gewoontes deur eenvoudig na sy tande te kyk. Die verskille tussen die tande van soogdiere en reptiele en visse is dramaties, om nie eens te praat van hoe hul “beenbekke” en die anderwêreldse chitien-monde van sekere insekte van mekaar verskil nie. Dan het alle moderne voëls geen tande nie. Hul snawels is immers hard en skerp genoeg om hul kos fyn te maak en dit in hul kroppe te kry. Klein voëltjies kom wel in die wêreld met ’n “eiertandjie” wat hulle gebruik om deur hul eiers te pik, dog dit val af kort nadat hulle uitgebroei het.

Maar ook verskillende soogdiere se tande kan onderling nogal aanmerklik van mekaar verskil. ’n Mens sou tog nie verwag dat byvoorbeeld ’n kat dieselfde soort tande as, sê, ’n skaap moet hê nie. Alle soorte katte (leeus, luiperds, tiere, wildekatte, huiskatte) het die tande van ’n vleisvreter—hoofsaaklik instrumente om mee te steek, te sny en te skeur. Die tande van ’n plantvreter, sê maar ’n wildsbok, ’n bees of ’n skaap, is weer hoofsaaklik maalklippe waarop veselagtige plantmateriaal fyngemaal word. Mense eet sowel vleis as groente, en hulle het dus tande wat al dié soorte werksaamhede verrig. In die wetenskaplike klassifikasie praat ons van herbivore — plantvretende diere (bv. die skaap en bees); karnivore — vleisvretende diere (bv. katte);  Omnivore — diere wat plante sowel as vleis verorber (bv. die bobbejaan), ook die mens.

Dit is egter belangrik dat ons allereers moet begryp hoe die gebitte van soogdiere saamgestel is. Dit bestaan naamlik uit sogenaamde snytande, oogtande, voorkiestande en kiestande. Die getal tande van elke soort wat by ’n mens of dier voorkom, word geskryf as ’n formule vir een kant van die mond, met die botande en ondertande in afsonderlike rye. Dit is ook interes-

sant dat tande ‘n groot rol speel in die argelogiese en forensiese bedryf. So word die tipe dier, ouderdom of die identiteit van ‘n mens vasgestel. Maar, van ‘n breë aap glimlag tot ‘n tandelose hoender – wat enige lewende wese hoort te eet word geopenbaar deur die tipe tande wat hulle het.