Die Koudste Yskas In Die Wereld

artic

Die koudste plek in Afrika is nie Sutherland of selfs Lesotho nie, maar ’n ­nuwe yskas in die Moederstad.

Die yskas van R6,5 miljoen staan in die departement fisika van die Universiteit van Kaapstad.

Dit is ’n ysige 8,190 mK (milli-Kelvin) of -273,149 °C – selfs kouer as die Boemerang-newel, die koudste bekende plek in die heelal.

Prof. Mark Blumenthal, wie se projek dit is, was geskok toe hy die kratte oopmaak ná die yskas se onlangse reis van Nederland na Johannesburg en van daar per vragmotor na Kaapstad.

Groot dele was verwoes en nuwe onderdele moes uit Nederland aangestuur word.

’n Span ingenieurs is besig om die yskas, een van die kragtigstes ter wêreld, te verfyn. Die yskas bevat ’n super-geleidende magneet wat 25 000 keer sterker as die aarde se magneetveld is. Daarmee kan fisici elektrone se spin manipuleer en individuele elektrone bestudeer, maar dan moet die omgewing so koud wees dat die elektrone stadiger beweeg.

Die stelsel gebruik helium 3 en 4. Dit is ’n duur storie, want helium 3 kos €3 000 (meer as R50 000) per liter en die yskas benodig 50 liter, wat sowat R2,5 miljoen sal kos.