DIE MOONTLIKHEID EN KOSTE VAN GRANAATBOERDERY IN BRITS

‘n Mens kry verskillende soorte granate. Van die bekendste soorte is die Bagua, ingevoer van Indië en Ciprus, en dan ook die Wonderful wat blykbaar uit Australië kom. Daar is dan ook die Acco-tipe.

Die Bagua is lief vir hitte maar kan nie die koue verdra nie, en die Wonderful kan weer die koue goed hanteer. Wat ‘wonderlik’ is oor hierdie twee granaat-tipes is is dat hulle albei sadeloos is.

Granate kan ‘n baie belowende opsie wees om te oorweeg indien ‘n boer na ‘n meerjarige oes opsoek is. Granate het begin opspraak maak in Suid-Afrika in 2000, en in 2013 is toetse uitgevoer op plase reg oor die land. Die toetse is gebruik om te bepaal watter kultivars geskik is vir die areas en wat die moontlike opbrengs, verlies, vermorsing ens. per ha per kultivar is.

Uit hierdie toetse is daar twee hoof kultivars geïdentifiseer. Acco en Wonderful. Die twee kultivars is die top produseerders in van granate in Suid-Afrika wat verbou word en die Wonderful variteit lewer tot 56% van die jaarlikse produksie. Acco word gebruik om 18% van die totale produk in die land te produseer, maar aangesien Brits ‘n somer reenval streek is en Acco meer vatbaar is vir swamme, wat die bespuitings koste gaan verhoog, word Wonderful eerder aanbeveel.

Die bome is droogte bestand, maar waterbeperkings gaan natuurlik die oes opbrengs negatief beïnvloed. Nadat die boord aangelê is vat dit drie jaar voor die eerste ordentlike oes afgehaal word, wat relatief lank is in vergelyking met byvoorbeeld ‘n groente gewas, maar steeds heelwat korter as die sewe jaar wat vereis word vir byvoorbeeld neutbome. ‘n Boord wat goed versorg word het ‘n baie lang leeftyd en sal maklik die persoon wat die plant werk gedoen het oorleef.

Die uitdaging is dat dit nie net ‘n eenvoudige plant en oes proses is nie, maar dit word aanbeveel dat vrugte produsente met ondervinding in vrug verbouing in die gespesialiseerde granaat produksie proses inspring. Ondervinding in uitvoermarkte en vereistes sal ook voordelig wees aangesien omtrent al die granate wat verbou word in Suid-Afrika vuitgevoer word.

Granate kan in ‘n redelike groot verskeidenheid tipes klimaat verbou word. Die dormante bome is ryp bestand, tot en met temperature van -10° C. En baie hoë temperature van tot 38° C is voordelig aangesien dit gesonde vrug vorming en verkleuring stimuleer. In somer reënval gebiede en gebiede met hoë humiditeit moet daar egter gewaak word teen moontlike swam infeksies in die boorde wat die vrug kwaliteit negatief beïnvloed, en om dit te beveg sal spuit programme in die boorde aangepas moet word.

Die uitleg van die boord en grond voorbereiding moet met oorleg en in konsultasie met ‘n kenner gedoen word aangesien sorgvuldige grondontleding en voorbereiding gedoen moet word want dit verseker die latere sukses van die boord. Die nodige pH regstellings en bemestingsstowwe moet in die grond gesit word sodat optimale groei van die jong bome verseker kan word en die aanbeveelde grond tipe is leem gronde, met goeie nutriënte en vog inhoud. Sanderige gronde kan ook suksesvol wees indien daar genoeg water voorsien word deur besproeiing.

Behalwe grond tipe en dreinering moet die volgende ook in ag geneem word as daar op ‘n boord posisie besluit word. Granaat bome het minstens ses ure direkte sonskyn nodig elke dag, maar die vrugte loop ook skade om sonbrand op te doen, so die gradiënt van die boord is van uiterste belang. Die aanplanting van die boord moet ook geskied in laat winter, vroeg lente Augustus tot September en moet dadelik na planting goed benat word sodat die grond om die wortels kompakteer en keer dat die wortels uitdroog.

Die eerste twee jaar na aanplanting is die koste per ha om die bome mooi te laat groei en ontwikkel ‘n geskatte R10 000.00. Tydens hierdie periode word daar fokus op boom snoeiing en ontwikkeling. Enkel stam of meer stammige bome is aanvaarbaar, maar enkelstam bome maak onkruid beheer en boord netheid bietjie makliker om te bestuur. ‘n Boom word gesnoei met ‘n hoogte van 3 tot 3.5m wat die oes proses vergemaklik, en moet ‘n vaas-form struktuur he. Granaat bome is self bestuiwend maar die teenwoordigheid van bye vir bestuiwing kan die oes tot en met 20% vermeerder. Verder moet die vrugte uitgedun word net na blomtyd om te keer dat te veel vrugte op een plek op die boom ontwikkel. Vrugte wat mekaar verdring sal nie die kleur en vorm van die vrugte negatief beïnvloed, en so ‘n gesaam koek skep ook ‘n baie goeie habitat vir insekte en ander peste om te kom nesskrop. Hoof peste vir granaat oeste is ‘false codling moth (FCM) aphids’, ‘mealy bugs’, doppies luise, miete en wit die vlieg. Siektes wat ‘n groot rol speel is ‘crown rot’ en ‘black heart’. Voëls, veral Grysloeries sal ook ‘n groot impak op die oes he as hulle nie beheer word nie. Vir verbouiing en oes van granate moet in ag geneem word dat daar baie spesifieke voorvereistes is vir die verbouiing en verpakking van uitvoerprodukte.

Die volgende is rofweg moontlikhede vir inkomste per ha (want soos ons almal weet, niks in boerdery is ooit swart op wit nie)

Gemiddelde inset koste per ha, ons noem dit jaar 0, beloop ongeveer R100 000.00 maar dit sluit jou besproeiingsstelsel in, so as dit alreeds in plek is gaan jou inset koste baie verminder. Jaar 1 se insetkoste is minimaal omtrent R10 000.00 per ha en dieselfde vir jaar 2. Jaar 3, as die eerste oes begin inkom, styg insetkoste vir die jaar na weer êrens tussen R80 000.00 en R100 000.00. Hierdie styging is as gevolg van bespuitings en bemestingskoste. Maar met ‘n goeie oes kan mens ‘n gemiddeld van R250 000.00 per ha in oes en vanaf jaar 5 behoort jy jou koste te kan begin verhaal.

So alles in ag geneem, granate kan in die Brits klimaat gegroei word, maar insette van ‘n kenner is baie belangrik met die aanplanting van die boord. Granate is ‘n semi-intensiewe gewas veral gedurende blom en oestyd en hier word die insette van ‘n kenner weereens benodig veral as ‘n boer vir die eerste keer met vrug verbouiing betrokke is.

Granaat vrugte kan tot vyf maande hou in ‘n klimaat gereguleerde yskas omgewing nadat dit geoes is wat mens ‘n bietjie meer tyd en grasie gee met markbeskikbaarheid en pryse. Maar dit gesê, die granaat aanvraag in die buiteland is van so aard dat daar nog nie naastenby gedink word aan granaat oorproduksie in Suid-Afrika nie.