Die skoonheid Van Die Skepping Vasgevang In Möller Se Kuns

mollerKobus Möller is ‘n wêreld bekende kunstenaar en baie van sy werk het al op die voorblaaie van die Safari tydskrif verskyn. “Sekere skoonheid is universieël. Geen persoon op aarde sal nie verwonderd by die Grand Canyon staan nie. ‘n Kunstenaar se werk is om daai skoonheid vas te vang,” sê Kobus. Kuns verander elke dag. Die kuns wat in die ‘Renaissance’ era gemaak was en die moderne kuns van vandag verskil hemelsbreed. Vergelyk die Mona Lisa met een van vandag se kunsstukke.
“Kuns neig om perfek te wees. Kunstenaars van die moderne tyd wil hulle afdruk maak. En dit het die dissipline vervang. Daar is nie meer dissipline in moderne kuns nie,” sê hy. Kobus vertel dat ‘n kunstenaar twee onbeperkte faktore tot sy beskikking het. Sy verbeelding en die natuur.

Jou verbeelding hou nooit op nie en daar is eindelose dinge in die natuur. Met die seisoene verander alles, mikro- skopies verander dinge en ‘n blom lyk nie dieselfde in die aand as in die oggend nie. Daar is nooit ‘n einde aan enige iets vir ‘n kunstenaar om te geniet nie.
“Ons brein is soos ‘n spier. Hoe meer jy dit oefen hoe beter raak dit. Tog het ‘n spier sy limiete, maar jou verbeelding het nie. Jy moet elke dag aan jou breinkrag werk, jou kreatiwiteit. Dit het nie limiete nie. Dit moet wees soos ‘n klein saadjie wat groei tot ‘n groot boom,” verduidelik Kobus. Dit help nie ‘n kunstenaar spandeer 30 jaar om presies dieselfde kuns te maak nie. Dan het hy geen kreatiewe groei nie. Net soos wat kinders op skool deur groepsdruk gaan, het die wêreld ‘n invloed op kuns.

Meeste kunstenaars doen nie hulle eie ding nie en probeer hard om die aanvaarding van die gemeenskap te kry terwyl hulle net iets anders vir die publiek moet bied. “Kuns moet ‘n vingerafdruk los. Hulle het al vir my gesê dat my kuns nie genoeg afdrukke los nie. Dit is hoe die waarde van kuns gemeet word. Hoe meer indrukke jy maak hoe beter kwaliteit is dit en hoe meer waarde kry dit. Ek maak my afdruk deur die natuurlewe wat ek skilder. Daar is soveel skoonheid in God se skepping en ek wil dit vasvang en vir die wêreld wys,” voeg hy by. As jy ‘n opkomende kunstenaar is en voel jy kan ook ‘n vingerafdruk los, het Kobus ‘n paar woorde van raad, “raak passievol oor wat jy doen.

As jy besef dat jy geen limiete het nie dan het jy baie potensiaal. As jy dit geniet, wys dit vir die mense. Hulle geniet dit om kuns te koop by iemand wat wys dat dit sy passie is. Stel belang in jou moontlike kliënte. Praat met hulle… met passie! Jy sal moet ‘n bietjie mense kennis hê en ‘n ding of twee weet van besigheid en bemarking. Leer ‘n vaardigheid tot die beste van jou vermoë. Die volgende stap is om op ‘n ander vaardigheid te fokus en dit ook te leer. Jy moet heeltyd groei om jou vaardighede uit te brei. Jy moet jou alles insit en besef dat jy tyd moet insit om ‘n kunstenaar te wees. Kunstenaars groei in volwassenheid ook. Kritiek is goed. Soek dit” benadruk hy.
So wat gee vir ‘n kunsstuk skoonheid? “In my kunsstukke vang ek God se skepping vas. Hy het na elke dag gesê ‘Dit is goed.’ En dit is vir my skoonheid,” sluit hy af.