Die tonnels van Graceland

Rudy Weyers by sy pamentos
Rudy Weyers by sy pamentos

Hierdie plek met die interessante naam is of was beslis nie Elvis Presley s’n nie. Hy was ook nie daar nie. Hy hou hom ook nie daar skuil nie.

Na ons aankoms was ons totaal meegevoer in die gesprek met Rudy Weyers dat ons skoon vergeet het om hom te vra hoe Graceland eintlik dan Graceland geword het!

By Graceland kweek hulle komkommers en groenpepers in tonnels en ons stel baie belang. Ses enorme kweekhuise staan op ‘n gebied van twee en ‘n half hektaar en gee ‘n eerste indruk van sukses. As die tonnels so van buite lyk wil ons graag sien hoe lyk die produkte daarbinne. Ons was glad nie teleurgesteld nie – dit slaan letterlik mens se asem weg om hierdie goeie verhaal te beleef.

Rudy is die bestuurder en is al sewe jaar hier. Ook ‘n oud-Wagposser wat direk na skool eers gaan ervaring opdoen het op ander plase – hoofsaaklik mielies – voordat hy hom hier kom vestig het. Mens kan sien hy leef homself uit, hy is entoesiasties en het baie kennis van hierdie boerdery waarvan hy in beheer is. Hy praat ook moderne taal – landboutaal. Soos ‘n ervare landboustrateeg verduidelik hy dat hierdie tipe boerdery baie intensief is. Sy beleid is om nooit te stagneer nie en hy hou homself heeltyd besig met proewe en het hoofsaaklik twee doelwitte; ‘n beter en meer koste-effektiewe produk. Hy boei die aandag deur te vertel hoe hy ‘n ruk gelede ‘n krisis gehad het met ‘n plant wat net nie wou presteer nie. Ander spesies doen goed en hy het oral na die oorsaak gaan soek. Hy was baie radeloos en wou nie tou opgooi nie. Uiteindelik het ‘n baie kundige persoon vir hom daarop gewys dat die grond wat hulle ingery het vir die bedding die probleem is. Die grond is ou kanaalgrond, steeds vol chemikalië wat ‘n negatiewe invloed op daardie bepaalde spesie gehad het. Sy verligting was groot, die herstelwerk is gedoen en die spesie het floreer. Die verhaaltjie is vir ons ‘n bewys van die erns waarmee hy sy werk benader.

Hulle kry water van Hartbeespoort Besproeiingsraad. Hoe is die kwaliteit van die water? “Nie baie goed nie,” sê hy dadelik. “Maar ‘n mens moet ook in ag neem dat die intensitieit van ons boerdery verdere behandeling van water benodig. Ons het ‘n pompkamer waar die water osoontoediening kry en ook ultra-violet behandeling kry. Dit is om bakteries en swamme te vernietig.” Hy bevestig dat die swak water die suiweringsproses duurder maak. Dit klink logies. In die pompkamer word ook die kunsmistoediening gedoen volgens gewas, grootte en ouderdom van die plante.

Ons stap tonnels toe. Rudy verduidelik dat die komkommers op een en ‘n half hektaar gekweek word. Die plantmateriaal kry hulle van buite af. Die intensiteit van die bedryf soos verhitting en verkoeling is geweldig in omvang en grootte. Rekenaars word ingespan om temperatuur, humiditeit en watertoediening te beheer. ‘n Ideale oggendtemperatuur is 13 to 14 grade. Komkommers dra eenkeer en het ‘n siklus van drie en ‘n halwe maand. In die somer lewer so ‘n plant 18 komkommers en in die wintertyd daal die getal na 14. Baie indrukwekkend.

Die groenpepers is eintlik vier tipes. Groen, geel, rooi en ‘n langwerpige een wat sweet pamento genoem word. Dieselfde as die ander, maar is soeter. Word ‘n groenpeper eers groen, dan geel en dan rooi? Rudy glimlag droogweg en verduidelik dat hierdie drie verskillente variëteite is. Sorry – ons het dit nie geweet nie, maar weet dit nou!

Die groenpepers beslaan dieselfde area as die komkommers en hulle het ook verdere halwe hektaar daarvan onder skadunette. Hulle kweek self die plantjies van hierdie groente wat ‘n jaarlikse siklus het. Die pluktyd begin na vier maande. Rudy wys daarop dat hierdie produkte uit ‘n kweekhuis ‘n beter raklewe het. Dit is ook ‘n beter produk. Kweekhuise is nie so arbeidsintensief soos oop lande nie en ‘n verdere voordeel is beter beheer oor die produkte. Hy verduidelik dat kweekhuise glad nie immuun is teen siektes nie. Plaagbeheer word toenemend toegepas en tipiese euwels is witvlieg, blaaspootjie en rooispinmyt.

Na die oeste word die plantreste en groeimediums, dis nou ‘n mooi naam vir as en saagsels, verwyder en die tonnels word ontsmet. Nuwe groeimediums word dan ingery en die nuwe plantjies word dan ingesit. So ‘n kweekhuis staan nie vir langer as sewe dae leeg nie.

Ons voel nie spyt dat ons so baie van Rudy se tyd in beslag geneem het nie. Ons het groot waardering vir die geduld en moeite waarop hy die prosesse vir ons verduidelik het. Duidelik weet hy waarvan hy praat en is baie bewus van die verantwoordelikheid waarmee hy toevertrou word. Hy weet goed wat mens nie in boeke kry nie.

Soos vele van die blink boere in ons omgewing het hy ook ‘n besondere graad – ‘n ruggraat. Ons is steeds nuuskierig oor Graceland.