Die Vader van die boormasjien

Die reëlmatige gestamp van ʼn Dreyer-boormasjien word nie meer gehoor nie.  Dit is grootliks deur moderne lugdrukbore vervang.  Die vader van hierdie ou staatmaker boormasjien is Willem Adolf Dreyer, die seun van ʼn Duitse Jood, Izak Dreyer wat in Fauresmith gewoon het. Hy het in die Engelse oorlog vir die boeremagte geveg, is gevange geneem en na St. Helena verban.  By sy terugkeer het hy absoluut niks besit nie.  Hy het begin om velle en brille te verkoop en hy en is in 1907 met ʼn Afrikanermeisie,  Johanna Roux getroud en hulle het op ‘n klein lappie grond buite Fauresmith in ʼn ‘brakdakhuisie’ van gras en klei gewoon.  Dis hier waar Willem Dreyer op 10 November 1908 gebore is as halwe Joodjie.  Sy edele moeder het hom in Afrikaans en die Christelike geloof grootgemaak en deur naald- en stopwerk vir ander mense het sy gehelp om die pot aan die kook te hou.  In hulle skreiende armoede was sy pynlik netjies en het sy self die rietdakhuisie se dak herstel as dit na swaar reën beskadig is.  Haar hardwerkendheid, netheid en dissipline het Willem lewenslank bygebly en toe dit later jare met hom in sy rykdom goedgegaan het, was hy altyd onbe-rispelik in ʼn snyerspak geklee, sy skoene blink gepoleerd, sy lessenaar sonder papiere wat rondlê en sy motor is elke oggend voor werk gewas.

imgres-1 imgres

As jong kind het hy bitterbossies en miskoeke bymekaargemaak vir die potjie pap, het 15km per dag kaalvoet na die plaasskooltjie geloop en toe sy vader in 1921 sterf het hy middae by ‘n goedgesinde Joodse handelaar as klerk gaan werk om die gesin aan die lewe en sy suster op skool te hou.  Die wurggreep van armoede het hierdie merkwaardige seun ʼn eed laat neem om eendag bokant die armoede uit te styg.

Deur harde werk, inisiatief, waagmoed en geluk aan sy kant sou hy vanaf winkelklerk, smous, horlosiemaker, werktuigkundige, versekeringsagent en boorman in Bloemfontein uitstyg tot ondernemende, Afrikaner entrepreneur, skat-ryk nyweraar, sakeman, eiendoms-

ontwikkelaar en megaboer met talle spogplase.   Die eerste skrede in sy suksesverhaal was die stigting van Dreyer Ingenieurswerke in 1939 in Bloemfontein.  Hier het hy ʼn nuwe, rewolusionêre brandstofaangedrewe boormasjien met ‘n teleskopiese toring van YSKOR-staal ontwerp wat tot ʼn ongehoorde diepte van 400m deur ysterklip kon boor.  Daar is letterlik tougestaan om van Dreyer se nuwe boormasjiene te bekom maar hy het nie oor voldoende kapitaal beskik vir massaproduksie nie. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog verneem hy egter dat die Weermag ʼn aantal uitgediende Kitty Hawk veg-

vliegtuie op Kimberley op ʼn openbare veiling gaan verkoop.  Hy besluit om daarop te gaan bie en verkoop al sy besittings behalwe die Ingenieurs-werke, leen geld by die bank en reis per trein met ʼn bankgewaarborgde tjek in sy sak na Kimberley.

Hy stap te voet na die lughawe met ou verslete klere aan wat hom soos ʼn boemelaar laat lyk.  Vir die veiling is daar groot belangstelling veral by Joodse skroothandelaars van Johannesburg.  Die afslaer sê vooraf dat die veiling plaasvind op ʼn basis dat die hoogste bieër se bod wat op hom toegeslaan word gee aan hom die geleentheid gee om een of al die vliegtuie te neem.  Toe Dreyer met sy armoedige voorkoms begin bie wag hulle vir die armoedige man dat hy maar klaar bie en vir hom een vliegtuig koop, dan sou hulle ʼn kartel vorm en die res van die vliegtuie saam vir ʼn appel en ei koop.

Toe die afslaer die bod op Dreyer toeslaan, vra hy ‘Which one do you want Mr Dreyer?’.  Na vinnige berekening weet hy dat hy met sy bankgewaarborgde tjek almal kan koop en hy swaai die tjek in die lug en skree ‘I’ll take the lot!’.  Die Johannesburgse Jode spring op en af en besef terstond dat hierdie arm, half Boerejood het hulle ore aangesit het.  Dit was die begin van Dreyer se fortuin.  Hy het die vliegtuie stuk-stuk opgebreek en sommige gerestoureer (so ʼn Kitty Hawk is tans R1m werd) en dat slegs die brandstof wat in hulle vlerke gestoor was se waarde meer was as wat hy vir die vliegtuie betaal het.  Die wiele het hy vir die bou van sy boormasjiene gebruik.  Met voldoende kapitaal vir die massaproduksie van boormasjiene het sy Ingenieurswerke wêreldwyd bekend geword en vanaf 1946 tot 1986 het hy meer as 10,000 boormasjiene verkoop, selfs tot in Egipte.  Sy sakeryk in Bloemfontein het die suksesvolle Ingenieurswerke, ʼn groot moderne drukkery, bioskope, inryteaters en tientalle modelplase rondom Bloemfontein behels.

Dreyer het inderdaad ʼn ontsaglike bydrae in boerdery in Suid Afrika gelewer.  Sy skoonseun, Berrie van Niekerk, vertel met entoesiasme hoe sy skoonvader se boormasjiene tot in die Kalahari aan versukkelde mense lafenis en welvaart gebring het deur drink- en besproei-ingswater diep uit die hart van die aarde te haal. Dreyer is 1997 op 88 jarige leeftyd oorlede en soos deur hom versoek, staan op sy grafsteen slegs sy naam, geboorte- en sterfdatum en die woorde ‘Rus in vrede’ geskryf.  Dreyer was inderdaad ʼn uitnemende voorbeeld van die uitdrukking ʼn boer maak ʼn plan.