Die Verband Tussen Siekte en Stres

stressOfskoon daar verskillende oorsake van kanker is, word stres nog dikwels nie as ’n oorsaak gereken nie, omdat daar volgens sekere medici geen klinkklare bewyse is dat dit ’n regstreekse verwekker van die siekte is nie. Tog is daar al hoe meer ander navorsers wat reken dat die rol van stres in die ontstaan en verloop van sekere soorte kanker glad nie buite rekening gelaat moet word nie.
Getuienis is immers besig om te akkumuleer dat daar die een of ander skakel moet bestaan tussen stres en hoe sekere soorte kanker ontwikkel en in die liggaam vererger. Só wys van hierdie mediese ge-leerdes daarop dat, as stres die liggaam se vermoë verminder om teen siektes te veg, dit mos vanselfsprekend ook die gestel se vermoë moet aantas om kankerselle dood te maak.


Soos een hoogleraar dit stel: “Ek dink dit is redelik om te sê dat stres een van die baie komponente kan wees wat die werking van immuunstelsels verknoei en ons dus meer vatbaar maak vir kanker en die siekte vinniger laat ontwikkel.

Maar stres kan net een stukkie van die legkaart wees—die vraag is watter persentasie dit daarvan is. My argument is dat, wat die persentasie ook al is, dit die persentasie is wat ons die meeste kan beheer. Ons kan nie ons gene (erflike faktore) beheer nie, maar ons kan die manier verander waarop ons op stres reageer.” Stres in die vorm van psigosomatie, wat beteken dat jou brein stres hanteer deur dit om te skakel in siekte, is nogal ‘n faktoor wat ernstig in aanmerking geneem moet word.

Siekte oor die algemeen word deur stres vererger. Ons kyk net na die gevalle van maagsere en maagswere. Stres is geken om een van die hoof oorsake van hiérdie siektestoestand te wees en mense in stresvolle omgewings kry dan ook maklik te doen met hierdie baie pynlike verskynsel.
Daar is eintlik nie veel van ‘n verskil wat kanker betref nie. Daar is ook verdere navorsing wat bewys dat gevoelens van onmin, bitterheid, haat en nyd tot die vorming en verspreiding van kanker byvoeg. Dit is dus baie belangrik om stres en druk reg te kanaliseer en om gesonde ontsnapping te vind in dinge wat jy geniet. As dit jou werk is, stel ‘n duidelike grens tussen jou persoonlike lewe en jou werk en moet nie vrees om terug te druk deur duidelik te kommunikeer met jou base nie.

As dinge by die huis ondraaglik raak, kommunikeer met jou huisgesin en stel ook duidelike grense van wat vir jou aanvaarbaar is en wat nie. Jy hoef nie altyd almal tevrede te stel nie. Die belangrikste persoon om gelukkig te hou en tevrede te stel is jouself.