Dis mielietyd!

Frans Burger by sy egalige mielies
Frans Burger by sy egalige mielies

‘n Pêl sê vir ons as jy mooi mielies wil sien, moet jy na na Frans Burger toe gaan. Toe gaan ons.

Sommer so met die inryslag sien ons dat hier orde is op Frans se plaas in Mamogalieskraal. Die mielies lyk mooi en gesond. Arabierperde kyk ons ook nuuskierig aan terwyl ons uitklim. Frans is ‘n vriendelike man en ons voel sommer dadelik tuis. Sy telefoon lui en ons hoor hy praat oor die sinchronisering van mielies. Dadelik het hy ons volle aandag. Vertel ons hoe werk ‘n mielie? Hy glimlag en laat nie blyk dat dit nou werklik ‘n stupid vraag was nie. “’n Mielie begin die eerste keer bestuif wanneer die pluim uitstoot. Twee dae nadat die pluim stuifmeel gegooi het moet die eerste baarde op die kop verskyn. Die daaropvolgende tien dae word die hele kop bestuif. Die mees effektiewe tyd vir bestuiwing is in die oggende wanneer dit koel is en later in die middae,” antwoord hy met groot geduld. Nou weet ons hoe ‘n mielie werk.

Hy verduidelik dat hy 85 hektaar onder mielies het, dis nou geelmielies, en hy verkies die Pannar kultivars. Verkieslik die 3Q740BR kultivar. Hy reken dat hierdie mielie die topkultivar in Suid-Afrika is en het onder proewe die hoogste gemeette opbrengs getoon. Dis nou hierdie geelmielie. Afhangende van die seisoen kan hierdie kultivar 15 tot 17 ton per hektaar lewer. Hy plant sy mielies in twee sessies; twee derdes word rondom 15 September geplant die laaste derde word geplant nadat die koring af is – vanaf helfte November tot helfte Desember.

Hy noem iets wat mens nie aldag besef nie. Enige gewas begin by die plantproses, dis is die belangrikste fase van die hele proses. Soos hy ook met sy koring doen, plant hy die mielies stadig – pit vir pit teen sowat drie kilometer per uur. Dit spaar baie ellende vorentoe want nadat hy klaar geplant het is die resultaat egalige groei en spasiëring. Die rye is 760mm uitmekaar en die spasiëring tussen die plante is 14,5 cm. Die resultaat is 88 000 plante per hektaar. Wat hy sê maak geweldig sin. Dit is onsinnig om die plantproses af te rammel en die resultaat aan die einde is 10 ton per hektaar. Gebruik jou tyd en doen dit ordentlik. Dit is belangrik om die grond optimaal te benut.

Dit is regtig lekker om met Frans te gesêls. Duidelik is hy ‘n mielieboer van formaat en hy huiwer nie om sy kennis met ons te deel nie. “Ek sal netnou oor die droogte praat,” sê hy, “maar die grootmaak van die mielies verg ook baie aandag. Ons sit met die voordeel dat ons tegnologie en die gebruik daarvan ten volle benut. Oral in die lande het ons vogmeters wat die besproeiing reguleer deur ‘n stelsel wat ons noem irri-check. Dit is ‘n gerekenariseerde stelsel wat die program van besproeiing reguleer.”

Sy voete is plat op die aarde. Baie realisties verduidelik hy dat baie kundigheid daar buite is en hy gebruik hulle maksimaal. Dit is spesialiste wat advies gee oor chemikalië, stikstof en fosfate asook besproeiingsadvies. “Ons sit saam en ons beplan saam,” sê hy.

Die droogte wat ons nou ervaar is ‘n realiteit en sy beplanning het dit ook in ag geneem. Ons het nie nou natuurlike reën nie en wat die natuur verniet gee, moet nou kunsmatig aangevul word. Natuurlik met addisionele kostes gepaard. Eskom se abnormale tariewe, veral noudat daar meer besproei moet, is ‘n verder klip in die skoen. Hulle is deel van die Hartbeespoort Besproeiingskema en het hulle kwota gekry. Hy is egter bekommerd oor die baie watergebruik wat nou plaasvind, as gevolg van die droogte, en is bekommerd dat hulle in die winter gaan sukkel. Ons het in vorige uitgawes al berig dat die waterjaar vanaf Oktober tot Oktober strek. Die wintergewasse gaan water nodig hê. Oor die kwaliteit van die mielie self, noem Frans dat die droogte wel die mielie laat sukkel om te bestuif.

Sy strooptyd op die eerste aanplanting is middel-Maart en in Mei word die tweede aanplanting gestroop. Die mielieprys in Maart is gewoonlik gunstig en die mielieboere verwag juis goeie pryse vir hierdie seisoen se mielies.

So na die mieliegepratery en gekykery sit ons rustig onder die lapa met koffie en beskuit. Ons weet nou baie van jou mielies – vertel ons meer van jouself? “Die perde wat jy gesien het is opregte Arabiere en daardie stokpertjie het opgeëindig as ‘n stoet – die Azraff-stoet. My gesin, dis nou Michelle en die twee seuns, is gek oor perdry en ons geniet die perde ten volle,” praat hy lekker ontspanne. “My vrou is betrokke by ‘n familie onderneming in die hoenderbedryf en ons het reeds ‘n impakstudie gedoen oor hoenderhokke vir braaikuikens. Dit is vandag ‘n gegewe feit dat diversifisering van ons landbou aktiwiteite baie belangrik is. Om net aan een faset vas te klou is te riskant.” Dis ‘n bekvol en ons stem saam.

So met die wegry kom ons maar weer tot die slotsom dat ons boere ‘n unieke spesie is. Hulle is kundig en huiwer nie om hulle kundigheid te deel nie. Hulle is blymoedig en sien ‘n probleem eerder as ‘n uitdaging. Hulle aanvaar die aanslae van die natuur gelate en beraam onmiddellik planne om dit teë te werk.