Echo Berry – aarbeie en aarbeie

Willem (regs) met bestuurders Carl en Louis
Willem (regs) met bestuurders Carl en Louis

Die gewilde Aarbeifees lê net om die draai. Die naweek van 11 September om presies te wees – by die Brits Mall. Die Fees is al 7 jaar lank ‘n instelling in Brits. Ons by Blink Boer is mos nuuskierig en het gaan kyk hoe die kap agter die byl lyk. Wat ‘n verrassing!

Willem Buscop is die Operasionele Direkteur en ons het vir hom gaan kuier – eintlik gepla, maar hy het dit geensins so laat blyk nie. ‘n Baie aangename mens wat met volle aandag na die vrae luister, dit met groot geduld beantwoord en moeilike begrippe in omgangstaal beantwoord.

            Kom ons begin by hoe hierdie onderneming tot stand gekom het? “Ons is drie vennote, Phillip Cox en Willem Strauss maak die span volledig,” sê Willem terwyl die radio en telefoon kort-kort onderbreek. Ongesteurd gaan hy voort. “Phillip en ekself het sowat 25 jaar gelede met hierdie besigheid as Glenwood Farm begin. Hierdie plaas is reeds so lank terug as 1949 besig met aarbeie. Die noordelike deel van die Magaliesberg met sy matige winters is ideale omstandighede vir die kweek van aarbeie.” Op die vraag of hulle die grootste aarbeiplaas in die land is lyk hy ongemaklik. “Ek wil nie hê dat dit moet oorkom dat ek brag nie. Ja, ons het 100 ha onder aarbeie wat ons die grootste in die land maak, maar daar is baie mooi aarbeiplase regoor die land.” Terwyl ons rondry sien ons ‘n verdere 10 ha wat aangeplant is en Willem maak nie melding dat dit hulle eintlik nou 110 ha onder aarbeie het nie – hy is werklik inkennig.

Willem doen baie moeite om ons deur die volle proses van die aarbeiproduksie te neen. Eers die pakstoor en dan gaan ons lande toe. Terwyl ons so deurloop en gesêls is dit opmerklik oor hoe hy presies weet wat aangaan. Kort-kort stop ‘n bestuurder of supervisor hom met ‘n vraag en dadelik gee hy die antwoord. Toe stop ons die lorrie en vra hom wat hier aangaan. “In die pakhuis het ons 450 mense in diens met ‘n verdere 1000 in die lande,” kom die antwoord gladweg. Waar kom hulle vandaan en het julle arbeidsprobleme? (Hulle is mos naby die berugte Lonmin-myn wat nou konstant in die nuus is) “Hoegenaamd nie,” sê hy met ‘n droë glimlag, “Kyk vir jouself. Jy sien orde en dissipline. Elke werker het ‘n kleuroverall volgens haar of sy werk met ‘n nommer en word gemoniteer volgens ons duidelike riglyne. Weet jy wat? Ons ervaar geen probleme met die Departement van Arbeid nie omdat ons alles perfek doen volgens wetgewing.” Ons kan dit sien, en soos die toer vorder word ons meer beïndruk met hierdie man wat met positiwiteit en entoesiasme met al sy werkers kommunikeer. Alger van hulle kom van die omgewing af en word daar in diens geneem. Ecko Berry het selfs busse wat hulle gebruik om die werkers aan te ry.

Vertel in kort hoe ‘n aarbeiplaas werk? Willem glimlag en sê dat aarbeie deur die jaar geplant kan word. Uiteraard het die vrugte sonlig nodig en die beste kwaliteit is vanaf Mei tot September. Hulle gebruik vyf variëteite wat mekaar aanvul – hoofsaaklik vir smaak. In die somermaande word die aarbeie in plastiek geplant en dit trek die 12 maande produksielyn deur.. Onkruid is maar ‘n euwel in die somermaande en daar help die plastiek om dit op ‘n meer ekonomiese manier onder beheer te hou. Die plastiek maak dit ook makliker om die produkte te oes. Geen vermorsing vind plaas nie, want die uitskotprodukte word verskaf aan die mense wat jogurt en sulke goed maak.

Nou maar goed, wat produseer julle? “Sonder om te brag wil ek noem dat ons ongeveer 5,000 ton aarbeie tussen April en Desember elke jaar lewer. Ons markte is Woolworths, Pick&Pay, Checkers en die varsproduktemark. Ons volle produksie word deur hulle opgeneem.” sê hy.

Kom ons praat oor die Aarbeifees. Hoekom? “Dominee Pierre van Deventer is eintlik maar die stigter van hierdie projek. Ek is daarvan seker dat hy vandag uit die Hemel uit vir ons glimlag. Ons is nou al in ons 7e jaar hiermee besig. Ons skenk die aarbeie en alle opbrengste gaan na die NG Kerk, Brits. Laasjaar het die Fees 21 ton aarbeie verkoop. Ons sien daarna uit dat hierdie rekord vanjaar verbeter word,” kom dit vanuit ‘n baie ernstige Willem. Sy kerk is vir hom belangrik – dit hoort so.

Ongelukkig moet ons nou terugkeer na die realisme van die buitewêreld. Wat pla julle? “Weet jy wat, ons almal probeer ons bes. Ons skep werk. Ons doen ons beskeie bydrae om werksgeleenthede te skep. Eskom is ‘n geweldige probleem. Ons het koelkamers wat sonder krag astronomiese verliese tot gevolg kan hê. Hulle voel net mooi vere. Ons is ‘n redelike groot werksverskaffer. Wanneer ons met die owerhede deel ervaar ons ‘n gevoel van vyandigheid, alhoewel hulle geen vinger op ons kan lê nie. Dis die munisipaliteit, polisie en so aan. Moontlik soek hulle vir moeilikheid eerder om dankie te sê. Misdaad is ‘n riller. Jy sal geskok wees om te hoor wat ons verliese is en wat ons kostes is om dit te voorkom,” sê Willem baie ernstig. Ons kan maar net sela sê.

Willem se uiteensetting van die realisme wat positiewe boere ervaar het ons weer aan die dink gesit. Wat gaan aan? Hoekom word positiewe boere wat kos voorsien geïgnoreer? Hoekom beskou die owerhede hulle as opponente? Ons boere gee ‘n belangrike positiewe inspuiting in die ekonomie met werkskepping, salarisse en ander voordele. Hulle doen beter as die owerhede – en hulle word geïgnoreer. Die owerhede moet dringend besef dat die wakkerwordtyd miskien nou al te laat is. Daar is ‘n geweldige gaping tussen hulle en ons boere soos Willem.