Gebruik jou motorhuis op ‘n boere wyse.

 

 

GARAGEAs dit by plek en spasie kom kry jy twee tipes mense. Een wat opgaar, en die ander wat wegsmyt. Ons het ‘n oplossing vir die hamsteraar (‘hoarder’) wat net alles bymekaar wil maak en vir die obsessiewe kompulsiewe versteurde wat net weg mee wil maak (Ek sien alreeds hoe kyk vrou- en manlief op vir mekaar in die oe met ‘n glimlag – nou ja julle weet mos by die tyd goed wie het watse karaktertrekke!)

Vir die van julle wat graag bymekaar maak het ons twee gepaste idees om van jou motorhuis die beste gebruik te maak. En, ons gee jou nogal ‘n keuse tussen soettand en sout-tand, of sommer altwee.

As jy dalk ‘n ongebruikte motorhuis het of al is dit net die helfte daarvan – al moet jy jou tjor onder die afdak iewers parkeer – ons belowe dit sal die moeite werd wees vir die hele gesin (ja ons weet dis Suid-Afrika en hier ‘loop karre net weg;’ sluit die hek of gebruik ‘n alarm as jy kan – ons soek asseblief geen regseise van ons lesers as ryding net verdwyn na julle ons wenke toegepas het nie).

Kom ons begin by die begin: soet en sout – vat jou goed en trek Ferreira… kry eers daardie motorhuis uitgepak want ons wil hom weer vol pak – en dit met lekkergoed. Jy kan jou motorhuis gebruik as ‘n bêreplek vir ingelegde vrugte en konfyt. Of jy kan jou motorhuis eg boers gebruik – om biltong te maak (meer stoere boer as dit kan jy nie kry nie). Jy kan vir jou waaiers aan aanskaf en jou hande handig maak in die sout. Die sout is blykbaar goed vir jou vel maar die biltong nie so goed vir die cholesterol nie – so liewe mense vat dit net asseblief stadig, hospitaal onkoste is duur.

Vir die wat die horries kry, entevrees en benoud raak met die gedagte van ‘n toegepakte motorhuis, jy kan altyd die plek gebruik vir die wat hulle goedere wil stoor of dan net jou eie pakkasie uitsorteer en stoor.

Dit hoef nie altyd harde spier knaende werk te wees nie. ‘n Mens kan altyd jou motorhuis ook verander in ‘n speelhuis vir die kinders – en dalk ook nou en dan jou familie en vriende se kinders help oppas.

Hiérdie tyd van die jaar en spesifiek in ons ekonomiese klimaat, moet ‘n mens slim planne uitdink om die pot aan die kook te hou. Jy kan jou ingelegde vrugte en groente, asook jou konfyt verkoop uit jou ‘huishoudelike spens’ of liewers jou tuisgemaakte ‘biltong hoekie.’ En boonop dit kan jy ook intussen jou gesin en jou vriende bederf. Ingelegdes of southappies is ideaal vir partytjie en makietie hou, asook vir verrassende geskenke op verjaarsdae, huweliksherdenkinge, troues, en sommer net om die nuwe bure tuis te laat voel. En of jy alles self gebruik, verkoop of weggee – die keuse is alles joune.