Geskiedenis van kool

Die geskiedenis van kool kom ‘n baie lang pad, terug tot by die middel-eeue. Destyds was alle blaargroente geklassifiseer as brassicas en die kool, soos ons dit vandag ken, se oervader was Brassica Oleracea. Hierdie groente het oorspronklik in Brittanje en kontinentale Europa voorgekom in hoofsaaklik klowe en die klam kusgebiede. Deur die evolusie en verhouding tussen die brassica spesies het tipes soos kool, broccoli, Brusselse spruitjies en blomkool hul ontstaan gekry. Alle aanduidings is dat kool, as ‘n voedsel, sover terug as 1000 vC, deur die Kelte van sentrale- en wes Europa gebruik is.

Die Grieke van destyds het geweier om kool naby hulle wingerde te plant, want hulle was daarvan oortuig dat die onwelriekende geur van die kool hulle druiwe sou beïnvloed. Die Romeine daarenteen, wat na kool as caulus verwys het, het hierdie groente as ‘n luukse op hulle tafels gesien.

Die Grieke en Romeine het wel hierdie variëteit aangewend vir verskeie medisinale doeleindes wat verligting gebring het vir jig, hoofpyne en sampioenvergiftiging. Hulle het ook sterk daaraan geglo dat die inname van kool dronkenskap voorkom! In die 1ste eeu nC het ene Dioscorides die aanwending van die twee soorte kool, wild en aangeplant, gepropageer vir herbale doeleindes en dit het selfs so lank geduur tot na die 17e eeu.

Gedurende die 14e eeu het die rondekop kool in die Engelse markte voorgekom. Hulle het dit cabaches en caboches, woorde uit ou Frans, genoem wat verwys het na die balvormige- en toeblaar vorm van die produk. Baie gou was die gesegde “Take cabbages and quarter them, and seethe them in good broth,” op elke sjef se lippe. In die maer en rewolusionêre jare van 1420 in Frankryk het die burgery die adel daarvan beskuldig dat die massas nie brood nie, maar slegs kool gehad het om te eet.

In die 17e en 18e eeue was kool gevestig as ‘n stapelvoedsel in lande soos Duitsland, Engeland, Ierland en Rusland. Selfs gepekelde kool was gereeld te sien. Sauerkraut (suurkool) is gebruik vir die voorkoming van skeerbuik vir die matrose van Holland, Skandinawië en Duitsland vir die lang reise op see.

Die Engelse kolonialiste het kool in 1541-42 in Amerika gevestig en die Australiërs se beurt het in 1788 aangebreek toe die saad deur die Eerste Vloot daar aangebring is en op Norfolk eiland aangeplant is.

 

Die Guinness Book of World Rekords het ‘n paar baie interessante inskrywings oor kool:

  • Swaarste koolkop – 57.61kg
  • Swaarste rooikool – 19.05kg
  • Langste koolrol – 15.37m
  • Grootste kooldis – 924.4kg

In 2012 het Scott Robb van Alaska die wêreldrekord vir die swaarste koolkop gebreek met ‘n inskrywing van 62.71kg