Gesondheid uit die grond uit- Die aartappel

potatos

Die eerste wat oor die aartappel gelees is, is in Ciecas se ‘Cronica de Peru’ wat in 1553 geskryf is.  Hy het die aartappel toe ‘Papas’ genoem. Sommige beweer dat die aartappel oorspronklik van Chili of Peru af kom omdat droë aartappels en aartappelplante in begrafnisvase van mummies aan die noordkus van Chili ontdek is.  Van die vase is in die vorm van ‘n aartappel en word nou nog in ou grafte in Noord-Peru opgegrawe.

Monnike van Peru het die aartappel na Spanje geneem en dit was ‘Batatas’ genoem.  Dit het ook na Engeland versprei en dit word beweer dat skeepskaptein John Hawkins of Sir Walter Raleigh daarvoor verantwoordelik was.  Sir Walter het ook die eerste aartappel op Ierse bodem geplant.  Dit het lank geneem vir die aartappel om populêr te word omdat niks van die aartappel in die Bybel genoem word nie.  Sommiges het gereken dat dit nadelig vir die brein was en in Rusland het hulle van dit gepraat as die ‘Duiwel se appel’. Sir Walter se tuinier het een dag uit nuuskierigheid van die ‘aartappelbessies’ geëet en kort daarna dodelik siek geword.  Sir Walter het toe opdrag gegee dat die plant wortel en tak, of liewer knol en tak uitgepluk en verbrand moes word.  Die heerlikste geure het die lug gevul en die ander tuiniers het versigtig daaraan geproe en meer en meer geëet. Dit was heerlik en niemand het toe siek geword nie!  Eers toe het hulle uitgevind dat Sir Walter se tuinier die verkeerde ent van die plant geëet het!

‘n Verdere interessante feit is dat die Iere die gewoonte gehad het om met Halloween ‘n gaar aartappel by die drumpel van die voordeur te sit vir die siele wat in die ‘buitenste duisternis’ rondswerf.  ‘n Mens wonder net, sou Sir Walter nie dalk nog self vir ‘n aartappel moet naderstaan nie?

Gedurende daardie tyd was die ekonomie van Frankryk onder Lodewyk XVI in ‘n haglike toe-stand en kos was skaars.  Hongersnood het die land in die gesig gestaar en troepe moes dag en nag die koning se landerye bewaak, onder andere die aartappelland.  Die mense het nie die aartappel geken nie en dit dus nie geëet nie.  Heel diplomaties het Lodewyk toe een nag voorbedag die aartappellande onbewaak gelaat en die volgende more was alles gesteel.  Die plante het in die boere se tuine en lande floreer!  Van daardie tyd af het die aartappel populêr geword en het die hongersnood verdwyn.  Selfs Lodewyk het ter ere van die aartappel ‘n weelderige fees gereël en die aartappel het in een of ander vorm in al die geregte voorgekom.

Daar moes 200 jaar verloop voordat die aartappel werklik tot sy reg gekom het en dit is maar 100 jaar gelede dat die aartappel se voedingswaarde ontleed is.  Die aartappel word deur die meeste as ‘die juweel van die grond’ bestempel en word wêreldwyd as stapelvoedsel gebruik!   Met erkenning aan die Aartappelraad vir inligting bekom uit ‘n publikasie.