Gordhan se begrotingsrede gretig afgewag

4d8ceba33566484b8e80a925bb7c37eaIn afwagting op vandag se begrotingsrede is dit duidelik dat alle Suid-Afrikaners ’n toespraak verwag wat moontlik die belangrikste politieke aankondiging in dekades gaan wees. Die vraag waaroor elkeen wonder, is wat Pravin Gordhan, minister van finansies, vandag sal aankondig om te verhoed dat Suid-Afrika se kredietwaardigheid na rommelstatus afgeskaal word.

Belangrike besluite kom op drie hoofaspekte neer wat die minister in sy begrotingsrede sal moet aanspreek:

1)    Die wyse waarop semi-staatsinstellings finansieel bestuur gaan word;
2)    Of daar salarisaanpassings vir staatsamptenare gaan wees of nie; en
3)    Die wyse waarop staatsbesteding sal verander om onnodige uitgawes te verhoed.

Volgens Armand Greyling, regs- en beleidsanalis vir AfriSake, tap semi-staatsinstellings die tesourie onnodig leeg: “Maatskappye in die privaat sektor wat soos semi-staatsinstellings soos  byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Lugdiens presteer, word eenvoudig onder sakeredding geplaas of selfs gelikwideer om verdere verliese te voorkom. Dié semi-staatsinstellings moet verkoop of geskrap word omdat dit inkomste verbruik eerder as genereer.”

Greyling het voorts gesê dat ’n groot gedeelte van staatsbesteding vir salarisse gaan. “Die regering moet óf sy arbeidsmag verklein, óf salarisse verminder. Laasgenoemde is uiteraard ’n ongewilde keuse. Hy moet moeilike besluite tot groter voordeel van die ekonomie neem, en een van dié besluite behels staatsbesteding.”