Hengelstories bly lekker stories

Met die feesseisoen op hande is ons mos almal ‘n bietjie meer ontspanne. Vanjaar se moeilikheid moet maar oorstaan annerjaar toe. Ons weet mos dat ons ‘n unieke omgewing het wat vir bykans enige ontspanningsmoontlikheid voorsiening maak. Ons wil graag oor lekker stories praat en het toe diep gaan dink. Ons mense vang mos vis. Ons stel daarin belang en doen dit mos al lankal. In ons gesprekke kom ons interessante hengelaars teë – die ernstige vissermanne en die suipers. Soos met jag is daar baie stories oor visvang ook – liegstories wat mens se hare laat rys. Ons gaan praat toe met Pikkie Botha wat neffens Brits ‘n kroeg/restaurant bedryf langs ‘n dam.

Mense kan van die dek af visvang en pryse wen. Pikkie was onlangs in die nuus toe hy derde vir die Noordwes Provinsie in die SA kampioenskappe geeïndig het. Nog een van Brits se suksesverhale. Kom ons wees eerlik – natuurlik is daar die ‘brandy&coke’ brigade wat rondom die viswaters mense ontstig. “Hulle is totaal in die minderheid,” sê Pikkie want die stories kry mos baard soos dit aangaan. Hy wys daarop dat die ernstige visserman absoluut committed is teenoor sy sport. Hy noem dat sy waentjie, met sy visgerei daarin, duisende rande werd is.

Maar sekerlik is julle vissermanne geensins engeltjies nie en daar is mos die brandy-ouens wat julle ernstige ouens vergat? Hy begin lag en die herinnerings kom duidelik na vore. “Weet jy wat, wanneer ons ernstig hengel is daar geensins drank ter sprake nje. Die reëls is eintlik drakonies. Maar ons het ook begrip vir liegstories – liegstories oor visvang, jag en allerhande kattekwaad wat manne kan aanvang. Duidelik gaan hy op ‘n paar gedagteroetes in die verlede.

“Eendag het ek langs die viswaters gesit en ek hoor toe ’n horribale geluid. My nuwe vanggenote kom daar aangery en sleep ‘n datsun-bakkie agter hulle aan. ‘n Ysterpyp is die sleepstang en hulle reverse die gedoente in die dam in. Hulle het my volle aandag en met ‘n skok kom ek agter dat daardie rammelkas ten volle ingerig is. Halflyf staan dit in die dam en die manne vang van die bakkie se bakkie af. Die stuurkajuut is ‘n ten volle toegeruste kroeg – musiek ingesluit! In my 40 jaar van hengel was ek nog nooit so impressed nie!”

Hy begin om verder in sy gedagtes te swerf – die herinneringe kom duidelik op die skerm. “Het jy gehoor van die ou wat langs die water van vroeg af sy brandewynkoffie so geniet het dat die kinders sy lyne moes inroei met ‘n kano wat al sewe keer met emaljeverf oorgeverf is. Sy tafel is gedek vir lekker visvang – die lekker ‘koffie’ en ‘n vis sowat elke tweede uur vanaf die diep lyne in die donkergroen water. Later wys hy ook dat hy ‘n bedrewe en kranige visserman is en hink en pink na die water en gooi van die kant af in, windskeef bo-oor ander lyne en dadelik ontken hy dat hy skeef gegooi het! Teen laatmiddag het sy glas se kombinasie net die afwesigheid van koffie getoon en die tol van ernstige visvang begin om ‘n slagoffer te eis. Die stilte word versteur toe die kinders skree dat die barberstok vibreer en die katrol begin om met ‘n spoed af te wen die diepwaters in. In die pandemonium van angs en opwinding gee die opvoustoeltjie mee waarop hy sit en knak onder sy gewig. Hy kon nie sy hande vinnig genoeg onder sy sitvlak wegkry nie en so beland hy op moederaarde. Sy hande is vasgeknyp tussen die stoeltjie se pype en sy liggaamsgewig van bo af veroorsaak geweldige pyn. Die katrol skree steeds en die kinders skaterlag. Eindelik besef die kinders dat hulle hom sal moet gaan bevry en dit was nogal ‘n gedoente. Steierend kom hy by sy stok aan en kap vas – hy is immers ‘n gerekende visserman. Sy verbasing was groot toe die moeë barber uiteindelik deur die water breek en deur die verskreeude kinders in die net gejaag en geskep word. ‘Dis nou hoe ‘n vis moet lyk,’ sê hy mymerend terwyl hy aan sy nerfaf hande vryf.

“Onthou ons is ernstige hengelaars en moet baie protokolle tot die letter nakom. Soos jag en so aan is daar duisende stories, baie is waar en baie is fabels. Minstens hou dit ons sport aan die gang en mense praat daaroor,” sê ‘n visvanger wat geensins lieg nie!