Hoe Gaan Hiérdie Droogte Die Winter Beïnvloed?

Hierdie winter is nogal ‘n teer saak wat ons boere betref. Baie het al vele voorspellings gemaak van boere deskundiges tot die Suid Afrikaanse Weer Instansies.

Ons praat hieronder oor die nodige statistiek en dan gaan ons ook verder daarin oor die tydelike oplossing wat die reën in Madibeng gebring het. “Dit is nou alreeds ‘n krises wat dierevoedsel betref vir die laaste twee jaar. Die droogte het die koste van rou materiaal opgestoot en voer pryse en veral mielie pryse skiet die hoogte in. Suid-Afrika word gedwing om mielie graan in te voer – As dit nie reën nie is daar eintlik geen hoop nie,” het wildplaas voer deskundige Craig Shepston aan die Blink Boer redaksie erken. Nieteenstaande, het die reën tog onlangs goed geval in ons Madibeng geweste en die Hartbeespoortdam is 90% vol. Ons boere is van harte dankbaar.


Suid-Afrika sal nogsteeds ‘n minimum van 3 miljoen ton mielies moet invoer wat opsigself ‘n uitdaging is. “Ons sal die vordering van die aanplantings monitor en saam met die Nasionale oesskasttingskomittee (NOK) werk om die akkuraatheid deurlopend te verbeter,” sê kenner Jannie de Villiers. Die skatting het uitgekom op 7.438 miljoen ton, terwyl die mark ‘n oes van tussen 5.5 en 6.5 miljoen ton verwag het.
Graan SA het hul verbasing uitgespreek oor die grootte van die voorlopige oesskatting wat op 27 Januarie 2016 deur die NOK gepubliseer is. “Daar is heelwat aanplantings baie laat in die seisoen gedoen en die hektare van 1 995 000 kan korrek wees, maar dit is baie vroeg indien in ag geneem word dat die oorgrote meerderheid van die mielie-aanplantings in die Ooste en veral in die Westelike produksie-areas buite die optimale plantseisoen gedoen is. ‘n Mielieplant benodig ±150 dae om fisiologies ryp te word en niemand kan ‘n rypvrye April of Mei waarborg nie, ” het Jannie de Villiers, Uitvoerende Hoofbestuurder van Graan SA gesê.