Hoe Om Jou Grys Hare Te Kleur

haarkapper, mens, womans , mode

Dis lankal nie meer ongewens om jou hare tuis te kleur nie. Vir baie vroue is dit die enigste bekostigbare, volhoubare manier.

Soos met enige tuisbehandeling moet jy eerstens presies verstaan wat jy moet doen en die instruksies aandagtig lees. Kleurdeskundige Marie Robinson beveel aan dat jy ’n permanente formule gebruik. Die meeste permanente kleurprodukte bevat ammoniak en peroksied, wat jou hare basies sal “vlek” vir langdurige resultate.


Christi Panagio, woordvoerder vir Garnier Nutrisse, sê: “As jy ’n skakering kies, bly binne een of twee kleurskakerings ligter of donkerder as jou huidige haarkleur. Die versoeking is baie groot om jou hare baie donkerder of ligter te maak omdat jy dink dit sal jou grys toemaak, maar die kans is goed dat dit jou ouer kan laat lyk. Vind ook ’n kleur wat nie te veel kontrasteer met jou grys nie. Hoe groter die kontras, hoe groter die instandhouding.”

Wanneer jy ’n kleur gevind het waarvan jy hou, bly daarby. As jy elke maand ’n ander kleur kies, sal jy later verskillende vlakke van kleur (“kleurbande”) hê, wat baie onnet lyk. Moet ook nie te gereeld kleur nie. Jy sal al meer en meer kleurpigment op jou haarpunte kry en ’n opbou van kleur ontwikkel. Jou haarpunte raak dan later onnatuurlik donker in vergelyking met die wortels.

Daar is ’n rede waarom jy nie ’n “kleuropbou” kry as jy by ’n salon laat tint nie. Die persoon in die salon is professioneel opgelei om nie die skakerings te laat oorvleuel nie. Die haarwortels word byvoorbeeld eerste gedoen en vir presies die regte tyd aangelos. Maar as jy noukeurig te werk gaan en die beste raad volg, kan jy tuis ook fantastiese resultate kry.

Vra iemand om jou te help sodat jy nie stukke grys oorslaan nie. Kleur eers die wortels volgens die spesifieke instruksies en daarna die res van jou hare. As jy dadelik al jou hare kleur, sal die haarpunte al hoe donkerder raak. Los die kleursel net so lank aan soos die aanwysings aanbeveel en nie langer of korter nie.

Marie beveel aan dat jy eerder nie die spuitbottel gebruik wat saam met die kleursel kom nie. Dis dalk meer moeite, maar haar raad is om die kleursel in ’n glasbakkie uit te gooi. Gebruik dan ’n spesiale kleurkwas met growwe hare (beskikbaar by Dis-Chem) om die kleursel op die effektiefste manier aan te wend.

Onthou daar is nie ’n standaardoplossing vir alle vroue met grys hare nie. Jy moet die beskikbare opsies oorweeg en besluit wat die beste by jou leefstyl, begroting, voorkoms en waagmoedigheid pas.