Hoe Om Jou Hond Hoender Vriendelik Te Maak

imgres-1

Hoe gemaak as jy een middag na werk by die huis stop en jou geliefde brakkie sit met een van jou hoenders in sy bek? Dit is die moeilikste ding om vir ‘n hond te leer. Om te jag is tog tweede natuur vir hulle. Gelukkig is daar maniere om ‘n hond te leer hoe om hoender vriendelik te wees. Tot die kwaaiste hond sal vriende kan maak met jou hoenders.

Begin deur met jou hond te gaan staan terwyl hy aan ‘n stywe leiband vas is. Iemand anders moet dan ‘n hoender gaan vang. Moet net nooit die hoender voor die hond jaag nie! Sodra jy die hoender het moet jy stadig met die hoender nader aan die hond beweeg terwyl jy vriendelik met die hoender gesels en haar streel.

In die begin gaan hierdie stap baie moeilik wees. Partykeer kan dit ‘n week of twee vat vir die hond om net gewoond te raak aan die idee dat jy so vriendelik met die hoender is.

Oefen die eerste stap totdat die hond nie meer probeer om homself uit jou hande los te ruk nie. Die hond moet sien dat die hoenders ook daar bly en dat hy nie die enigste dier op die erf is nie. Volgende is om die hond te wys dat die hoenders kan loop waar hulle wil. Hou nogsteeds jou hond op ‘n leiband terwyl jy vir hom wys waar die hoenders loop. Hou hom styf vas, want hy gaan nogsteeds die begeerte hê om te hardloop.

Die volgende stap is om die hond so naby as moontlik aan die hoenders te vat. Teen die tyd sal die hond al moeg wees vir die “hoender oefening” en gaan hy nie lus kry om hulle te jaag nie. Doen dieselfde met die hoenders se hok. Vat hom in die hok in en wys hom dat ‘n hoender eintlik baie vervelig is. As jy voel dat jou hond vertroud is met die hoenders na al die oefeninge en elke dag se probeer, dan kan jy hom vrylik laat rondloop. Loop saam met jou hond tot waar die hoenders loop. Praat rustig met hom, moet nie raas nie. Oefen op hierdie manier elke dag tot dit nie meer nodig is om saam met hom na die hoenders toe te loop nie. Binnekort gaan jy sien dat die hoenders en die honde baie goeie vriende geraak het en sal jy nie weer by die huis kom en ‘n hoender in jou geliefde hond se mond kry nie.