Kinderhoek: Speel Paas Haas Met ‘n Doel.

15In vandag se moderne tyd met al die bemarking, reklame, advertensies en dan ook dat alles al hoe meer kommersieël raak is ‘n mens geneig om paastyd as net ‘n geldmaak storie te beskou.

Maar ‘n mens kan nogsteeds paastyd met die kinders geniet sonder om ‘n arm of ‘n been daarvoor te betaal nie. En jy kan dit doen met ‘n doel. Vertel jou kinders die ware verhaal waaroor paastyd gaan – van Liewe Jesus en hoe hy vir ons sondes gesterf het en hoe hy dit moontlik maak dat ‘n mens vandag nog pret kan hê en die lewe kan geniet – dat alle goeie dinge van bo kom.
Kinders is net kinders en wil ook in lekker pret en speel deelneem. Nadat ‘n mens nou die ernstiger gesprek wat godsdiens betref met hulle gehad het, kan ‘n mens ontspan en weet jy as ouer het jy jou plig volbring. Skattejag bly ‘n opwindende speletjie! Steek daardie heerlike sjokolade paaseiers weg en laat al daardie stoute oulike kabouters hulle gaan uitsoek. Versprei dit so dat die kanse goed is dat elke kind darem min of meer dieselfde hoeveelheid paaseiers vind – jy wil nie opgeskeep sit met ‘n kleuter geveg nie.

En mamma en pappa kan die kinders wat baie jonger as die ander is ook help soek. Dit sal ook die speletjie meer regverdig maak as jy voor die tyd vir elke kind ‘n groot sjokolade paaseier gee voor die soektog na die ‘marshmallow’ paaseiers begin. Dit maak seker dat almal regverdig genoeg soet goed kry.
Hou net in gedagte dat te veel suiker vir kinders tog nadelig is – hou matigheid voor oë. ‘n Ander probleem is as jy kinders het wat hiperaktief is of wat aan ADHD of ‘n soortgelyke sindroom ly – kyk dan vir sjokolade wat geen tartartzine of te veel preserveermiddels bevat nie – die beste is dan donker sjokolade wat baie minder suiker bevat. Jy is dan ook meer verseker van julle nagrus of alleen tyd as dit by slaaptyd kom. As die energieke kabouters nog te veel woema het as dit naby slaaptyd kom help ‘n bietjie warm sjokolade melk ook – onthou weer – nie te veel suiker nie. En, bo alles geniet dit en gebruik paastyd om met jou familie kwaliteit tyd te spandeer.