Kokoriba – ‘n Bosveldervaring

Gielie van Niekerk by sy goue sables
Gielie van Niekerk by sy goue sables

Die naambord by Beestekraal op die Thabazimbipad trek aandag. Dit lyk netjies. Mens wonder wat daar aangaan en Blink Boer het gaan kyk wat daar aangaan. Dit is nou ‘n interessante plek met interessante mense – vriendelik en bedagsaam.

Dit is ook ‘n juweel van ‘n plek. Soos ons rondloop is dit opvallend oor hoe die oord voorsiening maak vir enige tipe gas. Vanaf die kampeerder tot die luukssugtige. Netheid en orde is opvallend. Ook reels – streng reels.

Johan Roos is die oordbestuurder en is al 5 jaar lank ‘n instelling by Kokoriba. Hy ken sy job. Gesels gemaklik en onderhoudend en praat sonder om die lastige radio wat kort-kort hom roep, hom van sy ritme te laat kry. Hy klink besig en soos ons aangaan kom mens meer tot die besef dat sulke werk baie veeleisend is. Geniet hy sy werk? “Definitief,” sê hy sonder om te aarsel, “die groot voordeel is dat ek en Gielie van Niekerk, die eienaar, baie goed klaarkom. Ons vul mekaar perfek aan en ek het baie ruimte om my passie, naamlik die wild en die bos, hier uit te leef.” Sy liggaamshouding weerspieël die passie en soos ons na die teelprogramme kyk kan mens sien dat hierdie oord ‘n toegewyde en baie positiewe bestuurder het. Die teelprogramme is baie indrukwekkend. In netjiese kampe sien ons die programme met die swartrooibokke, wit rooibokke, hartwater springbokke, swart witpense, geel blesbokke, bosbokke en natuurlik die goue sables. Ons gaan ‘n bietjie later met die eienaar hieroor wil praat, want ons het baie vrae.

Die lodge verbyster ‘n mens. Hulle maak letterlik voorsiening vir enige denkbare tipe besoeker. Baie ruimte vir tent- en karavaankampeerders met netjiese ablusiegeboue. Dan is daar die Makoro kamp met sy eie lapa en kombuis vir groepe. Ses Sable tente is ‘in die bos’ wat elk twee persone kan huisves en is ook selfsorgeenhede. Gaste ervaar hier die boservaring sonder weerga. Die ontspanningsarea is omring met die Boendoe huise, Oukamp en die Kudu chalets. Die Kudu chalets is die laaste toevoeging en die kwaliteit van die akkommodasie sal enige adelike tevrede stel.

Die ontspanningsarea is die full package. Drie swembaddens. Een koud en die ander twee warm waarvan een binnenshuis is. ‘n Belewenis in die winter. Die stylvolle kroeg en restaurant bedien enigiets en die jongklomp geniet hulle gate uit op die pool tafels, tafeltennis tafel en die putt-putt baan. Hierdie plek is die volle vakansie en doen gestand aan sy leuse van Jou ideale bosveld wegbreek!

Gielie van Niekerk het belowe om te kom inloer en hy het sy belofte nagekom. Rondom ‘n vuurtjie sit ons rustig gesêls en sy volle aandag is by die gesprek. Hy is intelligent en gesêls gemaklik sonder enige mate van vertoon. Duidelik is hy trots op Kokoriba en hy het rede om trots te wees. Die plek is ‘n bosveldjuweel. Hy het sowat 10 jaar gelede die plek saam ‘n vennoot gekoop en is vandag die alleeneienaar. Hy het ook ander sakebelange? “Ja,” sê hy, “boerdery en ander besighede. In vandag se lewe moet mens diversifeer. Met Kokoriba het ons baie spandeer om die fasiliteite te verbeter. Ons mag nie stagneer nie. Sodra ‘n behoefte raakgesien word maak ons werk daarvan.So ‘n bedryf is geweldig kapitaalinsentief en kapitaal wat spandeer word, soos onderhoud en nuwe stelsels is normaalweg nie sigbaar nie, maar die gemak van ons gaste is die hoogste prioriteit.”

Wat van Kokoriba staan vir jou uit? Sonder om te aarsel boul hy die middelpen raak. Baie interessant noem hy dat kinders wat die Kokoriba ervaring geniet, altyd vir hom verblydend is. Sy gelaat verhelder wanneer hy verder praat. “Kinders moet so lank moontlik kinders bly,“ sê hy. “Ek sien gereeld die stadskind wat hier in die veld dinge sien wat hy nie verwag nie. Jy sien letterlik in sy oë hoe hy alles inneem wat die veld en die diere hom bied. Dit is opmerklik hoe die kind ontdooi, diere sien waarvan hy nog net gehoor het, met fietse in die veld rondry en in die swembaddens baljaar.” Baie filosofies sê hierdie pa van ‘n tweejarige seuntjie dat as ‘n kind dit geniet is hy gelukkig. As hy gelukkig is het hy ook gelukkige ouers. Dit is een van sy bydraes tot eko-toerisme. Die diepte van die antwoord laat mens dink. Hy is reg.

Ons begin praat oor die wild, die teelprogramme en maak toe melding van eksotiese wild. “In totaal het ons hier omtrent 19 spesies. Ek self verwys glad nie na enige van hierdie diere as eksoties nie. Daardie diere het hier voorgekom en dit is ons plig om dit te hervestig waar hulle hier, in die bosveld waar ons nou is, voorheen wyd voorgekom het. Die pryse van die diere is goed en daar is baie goeie genetika waaraan ons werk. Duidelik gaan hierdie ‘n lang proses wees maar dit is die moeite werd. Gelukkig is hierdie teelprosesse ‘n stabiele bedryf. Dit is ook ‘n feit dat hierdie bedryf ‘n waardetoevoeging vir ons plase is,” sê Gielie.

Hoekom is Kokoriba so suksesvol? “Die antwoord op hierdie vraag is redelik eenvoudig,” sê hy met ‘n skalkse glimlag, “hier kry die gas wat op soek is na ‘n gesinsvakansie presies waarna hy soek. Hierdie is ‘n totale gesinsoord waar ons omgee vir mense. Hulle privaattyd en rustyd word ook gerespekteer. Jy het vroëer verwys na ons streng reels, maar ons kry net komplimente daaroor. Ons reels gee almal die geleentheid om hulself te geniet. Wanneer hulle hier wegry moet hulle met oorgawe kan sê dat hierdie ‘n lekker plek is. Ons grootste trekpleister is natuurlik die bekostigbaarheid van ons oord. Ons pryse pas enige een se sak.”

By Blink Boer vra ons altyd vir sulke mense watter advies hulle het vir mense wat soortgelyke werk wil doen. Gielie sit en kry sy gedagtes agtermekaar. “Hierdie is geensins ‘n maklike werk nie. Baie dinge gebeur agter die skerms waarvan die gaste totaal onbewus is. Gaste moet ook hiervan onbewus wees want hulle is geregtig op ‘n sorgvrye vakansie. Die onding van beurtkrag het ons ook ongelukkig getref, ons moes ‘n generator aanskaf.Die geaardheid van mense wat hierdie werk wil doen is baie belangrik. So ‘n persoon moet goeie interaksie met mense kan hê. Tegniese vaardighede is ook baie belangrik want die probleme wat voorkom is nie stereotiep nie. So ‘n bedryf is geweldig kapitaalinsentief en mens moet ‘n passie daarvoor hê. Dit is harde werk en geensins ‘n rustige aftree joppie nie. My advies aan so ‘n persoon is om eers op ‘n soortgelyke plek te gaan werk. Sommer vir ‘n hele ruk en dan tot die besluit kom of dit is wat hy wil doen.” sê hy baie gebalanseerd.

So met die wegry is ‘n mens se kop baie besig. Dit is altyd lekker om suksesverhale van naby te bekyk en dan opnuut tot die besef kom dat plekke soos hierdie ‘n groot kompliment vir ons omgewing is. Kokoriba is ‘n ervaring – ‘n goeie een.