Koolboer van kaliber – Louis de Wet

Louis de Wet in sy koolland
Louis de Wet in sy koolland

Ons is nou in die middel van die koolseisoen – ‘n baie goeie wintergewas. In en om Brits is ons koolboere nou baie besig. Kool word nou gekap en oral sien ons die voertuie wat swaar gelaai hierdie stapelvoedsel na die verskeie markte vervoer. Formele en informele markte, met ander woorde smouse wat ook hul deel vorm van die voedselketting.

Dit word vir ons vertel dat ons by Louis en Monya de Wet moet gaan inloer om te sien hoe mooi kool kan lyk. Ons het toe gegaan. Ons ken hulle – Monya het mos laas keer vir ons ‘n uieresep gegee.

Die gesprek vorder sommer vlot soos Louis vertel dat hy maar net ‘n deel vorm van ‘n uitgebreide familieboerdery – pa Louis en broer Bennet maak die prent voltallig. ‘n Uitgebreide boerdery wat soetrissie, spinasie, mielies, spinasie en boontjies insluit. Ook nette, tonnels en lande.

Ons het oor kool kom gesêls en die twee praat sinvol en onderhoudend. “Ja,” sê Louis en glimlag breed, “die kool lyk regtig mooi en die oesproses gaan sonder haakplekke.” Hy noem dat hy die Megaton variëteit plant vir die winterseisoen as gevolg van die tipe se groeikrag en dit is ‘n uitstekende produk. Hy noem dadelik dat hy nie verkies om in die somer te plant nie as gevolg van die vele siektes waarvoor daar gekeer moet word. “In ons voorbereiding word die plantjies in Mei geplant en die grootste vyand vir kool is ‘n wurm wat deur ‘n koolrigtersmot in die plant beland.. Voorkomend spuit ons die plantjies om daarvoor te keer en ons bemesting is klaar gedoen na agt weke,” sê hy. Louis noem dat hulle in Julie begin oes en dit duur ‘n paar maande. ‘n Lekker besige tyd en Monya knik haar kop instemmend. Hy het 8 ha onder kool en hy reken ‘n redelik oes behoort sowat 18,000 koppe per hektaar te lewer. Hy noem dat ‘n koolboerdery nie arbeidsintensief is nie, wat so ‘n boerdery darem makliker maak. Die produkte word per kontrak gelewer asook aan die informele mark. Smouse kom van vêr af om hierdie lekker kos te kom haal.

Ons aandag word afgetrek deur die boerboel honde wat nie lus lyk vir gesêls nie – en Monya se gelaat verhelder soos ‘n kersboom wat aangesteek word. Duidelik haar trots en sy sê dat hierdie opregte diere ook geregistreer is. Teef word Kiara genoem en die ramkat heet Thor. Ons vra toe die vraag en Monya glimlag. “Hierdie lyn is baie gesog as gevolg van ‘n unieke DNA en mens sal baie moeilik ‘n kleintjie aanskaf vir onder R10,000!” Enige planne? Hulle het planne, sommer groot planne en eindelik kry ons uit haar uit dat ‘n nabye plan is om die teef te laat dek deur ‘n reun wat meer werd is as ‘n nuwe gesinsmotor! Hulle honde is in ‘n uitstekende kondisie en ons gaan definitief weer kom inloer sodra ons hoor dat Monya ouma geword het.

Hulle is ‘n baie oulike paartjie, redelik onlangs getroud en so met die wegry kom ons maar weereens tot die slotsom dat ons boere en hulle vrouens uit ‘n kaliber bestaan wat mens nie sommer op ander plekke kry nie.