Kospryse gaan styg weens swak oes en swak rand

Die uitwerking van vanjaar se droogte begin verbruikers én graanboere se sakke te skud. Landboukenners waarsku dat die styging tot dusver vanjaar van 48% in die plaaslike prys van witmielies en 34% vir geelmielies nie ’n uitkoms vir boere is nie. Die prys styg deels omdat die droogte vanjaar se mielie-oes met 31% laat inkrimp het, sê Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom. “Die land was die afgelope jare ’n netto uitvoerder van mielies, wat vir die landboubedryf ’n goeie inkomste aan buitelandse valuta beteken het, maar ons voer tans mielies in.”

Graan SA voorspel dat die land sowat 700 000 ton geelmielies en 50 000 ton witmielies sal invoer totdat die volgende oes in die silo’s is. Die koste van ingevoerde mielies het vandeesmaand skerp gestyg en dié styging sal vinnig deurwerk na die verbruiker toe.

“Ons verwag dat die prys van vleis, brood en graankos in die volgende paar maande kan styg, veral as die randwisselkoers op die huidige swak vlakke bly.

Dit maak ’n wesenlike verskil as die land in ’n swak oesjaar graan moet invoer, soos vanjaar. Voeg hierby die swakker rand, dan sal binnelandse pryse skerp styg, ondanks dalende dollarpryse van landboukommoditeite,” sê prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat. Hy waarsku die impak sal, soos altyd, die swaarste deur die armste verbruikers gevoel word. Dié segment bestee net minder as die helfte van hul inkomste aan kos.

“Ons kan beslis verwag dat arm mense in die volgende paar maande heelwat meer van hul inkomste sal moet gebruik om kos te kan bekostig.” Sihlobo sê die daling in die waarde van die rand begin nou ook boere se insetkoste verhoog. Graan en ander gewasse is volgens die nuutste produsenteprysindeks (PPI) 38,7% duurder as ’n jaar gelede. Suid-Afrika voer meer as 75% van sy jaarlikse kunsmisverbruik in, wat teen die huidige wisselkoers produsente se sakke skud.

Rondom ons wisselkoers is die prentjie net so droewig. Die rand het tot ‘n rekordlaagtepunt van R14-38 teenoor die dollar geval en ook tot ‘n sesweke laagtepunt van R15-48 teenoor die euro. Die Chinese aanwysers bly teleurstel wat die pryse van kommoditeite laat steier. Die prys van goud en olie het ook gedaal. Alhoewel die laer olieprys verblydend is, is die laer kommoditeitspryse duidelik negatief vir sulke uitvoere.

Ons sal ons gordels maar moet intrek – hoop daar is nog ‘n gaatjie in die belt oor.

5 thoughts on “Kospryse gaan styg weens swak oes en swak rand

  1. I am no longer positive the place you’re getting your info, however great topic.
    I must spend some time finding out much more or working out more.
    Thanks for excellent information I used to be on the lookout
    for this info for my mission.

Comments are closed.