Kwamahla – tuiste van die Rooibok

Hennie en Juna by Kwamahla se ontvangs
  Hennie en Juna by Kwamahla se ontvangs
'Bybeldonkies' is hondmak
‘Bybeldonkies’ is hondmak

Naby Beestekraal op die Sun City-pad kry ons Kwamahla Lodge. In Sjangaan beteken dit die plek of tuiste van die rooibok. Die padbordjies vanaf Beestekraal lei mens direk na Kwamahla en ons hoor die bordjies vanaf Rustenburg is net so duidelik. Hier kry ons vir Juna en Hennie Klopper.

Die eerste opvallende indruk wanneer ons inry, is hoe mak die diere is; njalas, rooibokke, blesbokke en selfs vyf donkies.

Donkies op ‘n wildsplaas? Juna glimlag baie spontaan en verduidelik dat drie van die donkies vir die slagpale bestem was en ‘n vriend het hulle gered. Toe beland die donkies by Kwamahla en twee van hulle is nuwe babas van Rachel – hier gebore. Hulle name kom uit die Bybel uit; Isak, Esau en die twee babas heet Jacob en Sarah! Met nadere kennismaking kom ons agter dat Isak nie sy doopnaam gestand doen nie. Hy is ‘n afknouer en raak enige tyd van die dag of nag aan die skree – ongelukkig is hy reeds ‘gedoop’, anders kon ‘n mens voorstel dat Satan mos ook in die Bybel voorkom. “Die gaste geniet die donkies baie,” sê Juna, “en party njalas is so mak dat hulle uit die hand uit gevoer word. Dit is altyd mooi om die gaste – veral kinders – se opregte vreugde te sien om so ‘n voorreg te beleef.”

Hennie noem dat hy die plaas sowat 25 jaar gelede gekoop het en omtrent nege jaar later stelselmatig begin het om die lodge te bou – eiehandig. Die Rustenburg-pad verdeel die grond in twee. Die gedeelte van die lodge beslaan sowat 25 hektaar en oorkant die pad is daar amper 300 hektaar. Wat die wild betref, is daar aan die lodge se kant net die drie spesies, maar oorkant die pad is daar koedoes, rooibokke, sebras, blouwildebeeste, waterbokke, blesbokke, duikers en vlakvarke in hulle natuurlike habitat hy sê dat ‘n rooiboskat al opgemerk is en ‘n luiperd hou van tyd tot tyd skuil in een van die koppies.

Ons kom toe by die punt. Hy het ‘n indrukwekkende kennis van bome, sommige mense beskryf sy kennis as fenominaal. Hy glimlag skugter en probeer homself veronskuldig – hy sê daar is ander mense met meer kennis as hy. Dit mag so wees, maar ons ken nie ander mense nie.

Mens kan sien hy geniet hierdie onderwerp. “Verskeie boomsoorte kom hier voor.” sê Hennie. “’n Botanikus was eendag hier en het gepraat van ‘n allemintige hoeveelheid spesies van bome en struike wat in ons veld voorkom. Baie interessant het hy van snaakse plante melding gemaak waarvan baie mense nog nooit gehoor het nie. Byvoorbeeld numnum, boesmandruiwe, laventelkoorsbessie en sandolien (hierdie is ‘n struik met boomstatus). Ek glo daaraan om die natuur toe te laat om sy gang te laat gaan. As ‘n boom omval los ek hom uit. Dis interessant om te sien hoe die gras, wat dan beskerming geniet, die kans aangryp om te herstel. Verdermeer vind verrotting plaas wat dan ‘n verdere stimulus is vir die grond om sy natuurlike dosis voedingstowwe te kry.”

“Sekelbos is ‘n indringerplant wat ‘n beperkte lewenstyd het. Natuurgesproke, is ‘beperk’ in hierdie geval selfs so lank as 20 jaar. Dit is hoekom ek geen probleem het om sekelbos uit te haal nie, want na my mening bly dit die beste vuurmaakhout.” Dis nogal ‘n bekvol.

Wat is jou gewildste boom? “Ongetwyfeld hardekool. Dit is vir my net verstommend hoe so ‘n boom honderde jare oud word. Dit mag snaaks klink, maar ek weier om vuur te maak met hardekool. Ander mense hou daarvan, maar ek het te veel respek vir die boom om dit te verbrand.”

Hy maak meubels van hardekool as ‘n stokpertjie – hoe rym dit? Hy glimlag en sê dat dit maar sy beskeie manier is om die hout se bestaan op ‘n mooi manier voort te sit. Dit maak nogal sin.

Hennie noem dat hy en Juna hulle destyds hier gevestig het vanaf Pretoria. Hy het eerste gekom en begin om die infrastruktuur te skep, sy het by ‘n groot instelling gewerk en het ‘n bietjie later gekom. Die idee van die lodge was eintlik Hennie s’n en Juna het hom daarin ondersteun. Kan ‘n goeie pensioen wees om ook nog op jou latere oudag jou passie uit te leef. Hy sê dat hy dit as ‘n uitdaging gesien het en Juna se mikpunt was om gelukkige gaste te sien. Sy slaag steeds baie goed daarin en die gaste kan nie uitgepraat raak oor die kwaliteit van die kos wat sy voorsit nie. As boeredogter kan sy natuurlik kosmaak en het gevoel om nogtans ‘n kursus destyds te gaan doen om die fynere puntjies van spyseniering aan te hoor.

Ons ry in die veld en Hennie praat baie kundig oor die verskeie bome wat ons teekom. Hy wys die acacia- en combretum spesies uit. Selfs die botaniese beskrywings kom sonder inspanning oor sy lippe. Mens kry nuwe respek vir bome – hy wys die acacias uit, wat die algemene doringbome is. Haak en steek, lekkerruikpeul, enkeldoring, swarthaak en soetdoring word uitgewys. Die combretums is hardekool, rooibos, raasblaar, kierieklapper, rooi ivoor, olienhout, tambotie en so gaan die lys aan. Hy is ‘n nimmereindigende bron van kennis. Het ‘n baie goeie kennis van die voëllewe ook en wys daarop dat ‘n totaal van 372 verskillende voëltipes in hulle gebied voorkom. Enige voëlkyker se droom. Die wildlewe is net so indrukwekkend. Die diere is nie wild nie en lyk gelukkig. Het die diere vyande? Hy huiwer nie om te antwoord nie en noem dat enige reservaat skades kry maar hy meng nie in nie. “Mens moet versigtig wees om met die natuur in te meng nie. Sodra jy een verpesting elimineer, versteur jy die natuurbalans en ‘n ander plaag neem oor,” is sy antwoord.

Terug by die lodge kom Juna aan die beurt. Sy sê hulle werkafbakening werk baie goed. Hennie is verantwoordelik vir die daaglikse onderhoud van die plek en hy neem die gaste veld toe. Die restaurant en chalets is haar babas. Baie mooi babas inderdaad. Die netjiese vyf chalets is rondom die sentrale punt wat die swembad, restaurant en selfs ‘n goedtoegeruste konferensiesaal insluit. Sy sê die gaste gaan almal hier weg met ‘n glimlag. Die meeste kommentaar is oor die rustigheid van die lodge. Die gaste vertrap nie mekaar nie en hulle kan hulle in die veld uitleef deur te stap en selfs fiets te ry.

Kwamahla Lodge staan vir niemand terug nie. Een van die kerse op ons eko-toeris koek.