Leer Ken Swaziland In Sy Volle Skoonheid

danceDit sal baie help om meer bekend te raak met Swaziland, sy bevolking en wat die land as ‘n toeriste eindpunt laat uitstaan voor ‘n mens dit onderneem om dit jou wegbreek bestemming te maak.

Die Koninkryk Swaziland is met sy oppervlakte van 17 363 vierkante kilometer die tweede kleinste staat op die vasteland van Afrika ná Gambië. Swaziland is landgebonde en word deur Mosambiek in die ooste en die Suid-Afrikaanse provinsies Mpumalanga in die noorde en ooste en KwaZulu-Natal in die suide begrens. Die landsgrense het ‘n totale lengte van 535 kilometer, waarvan 105 km met Mosambiek en 430 km met Suid-Afrika gedeel word.


Swaziland kan in vier geografiese streke verdeel word. In die ooste strek die Lebomboberge op ‘n maksimale hoogte van 600 meter en ‘n droë subtropiese klimaat in noord-suidelike rigting. Die Laeveld wes daarvan lê sowat 200 m bo seevlak word deur ‘n droë bosveld-landskap oorheers. Die klimaat is hier al byna tropies warm – gedurende die somermaande styg die kwik soms bo 32 °C. Die streek is onder meer geskik vir die verbouing van suikerriet.

Die Middelveld met sy vrugbare heuwellande en valleie het ‘n gemiddelde hoogte van 700 m bo seevlak. Dit beslaan ruim ‘n kwart van Swaziland se totale oppervlakte. Die Hoëveld in die weste van die land lê sowat 1 300 m bo seevlak en gaan in die weste in die Suid-Afrikaanse Drakensberge oor. Hier word onder meer bosgebiede aangetref. Die streek het in die algemeen ‘n gerieflike klimaat, alhoewel die jaarlikse reënval hier net soos humiditeitsvlakke hoër as in die res van die land is.
Die hoogste punt van Swaziland met 1 862 m is die Emlembe in die noord-weste digby die grens met Suid-Afrika, die laagste punt (21 m) is die rivierloop van die Groot Usutu. Die meeste neerslae in Swaziland sak as kort reënbuie uit, terwyl langdurige reën nouliks voorkom. Die langste rivier, wat deur Swaziland vloei, is die Lusutfu. Swaziland het ‘n totale bevolking van 1,1 miljoen (2015-skatting), hoofsaaklik Swazi’s (wat deel uitmaak van die Nguni-groep binne die Bantoe en nouverwant aan die Zoeloe is) met klein minderhede van Zoeloes, Tsongas en Sjangaans. Naas die ampstaal SiSwati (verwant aan Zoeloe) word Engels en die tale van etniese minderhede gebesig.
Sowat 60 persent van die bevolking is aanhangers van onafhanklike kerke soos die Zionistekerk. Ander belangrike denominasies is Protestants (15 persent), Rooms-Katoliek (5 persent) en Anglikaans (1 persent). Aanhangers van inheemse godsdienste verteenwoordig sowat ‘n vyfde van die totale bevolking. Die roemryke land met al sy toerisme bestemmings soos jagplekke, damme, watervalle, berge en vakansie-oorde is juis ideaal vir die Suid-Afrikaner wat graag wil wegkom sonder om ‘n arm en ‘n been daarvoor te betaal nie.

Die bevolking is vriendelik en help graag toeriste, die politieke klimaat is redelik stabiel en die rand beteken darem nog iets in hierdie Afrika natuurskoon land. Daar is ook geen tekort aan aktiwiteite vir die hele gesin en dit beloof ‘n vakansie wegbreek van vele pret en uitdagings.