Liefde behou die oorlewing van die natuur

LiefdeIn die ysige Noordpoolgebied speel twee ysbere warmpies neusie-neusie. In die snikhete Afrika bespuit twee olifante mekaar ewe koeltjies met modder en water. En in die Atlantiese Oseaan baljaar twee dolfyne in die golwe. Jy dink miskien dat hierdie diere se doen en late niks gemeen het nie, maar eintlik is hulle almal met dieselfde ding besig. Dit is die spel van die liefde in die natuur.


Hofmakery onder diere is nie so eenvoudig soos dit dalk lyk nie. Nadat ’n mannetjie ’n moontlike wyfiemaat gevind het, moet die kêrel boonop seker maak dat sy hom darem as waardig genoeg vir haar beskou. Verskillende diere het dan ook hul eie unieke liefdesblyke en minnetale om met paartyd die spel van die liefde te speel. Om ’n geskikte maat te vind is nie altyd so eenvoudig nie, veral nie vir die alleenlopers in die diereryk nie. ’n Wesp het dalk in sy hele lewe nog nooit ’n ander wesp gesien nie, maar nou soek hy freneties na ’n skoonheid met ’n perdebylyfie. Sowel die mannetjie as die wyfie moet vrugbaar wees en gereed wees om te paar. Die wyfie is gewoonlik lugtig en die mannetjie aggressief.

Om hierdie probleme te bowe te kom het die onderskeie spesies verskillende maniere van doen om hul luime soos vrees te onderdruk en die paringsdrang te versterk. Dit kan wissel van ingewikkelde rituele en ’n pronke- rige seksuele vertoon tot eenvoudige sintuiglike seine. Die hofmakery van die voëls is die skouspelagtigste van dié van al die diere. Baie eendsoorte maak byvoorbeeld drinkgebare en stryk hul vere glad, alles dramaties beklemtoon deur hul kleurryke en elegante kopvere en opgehewe vlerke.

Die volstruiswyfie sal met ’n teatrale hoogtrap-dans by die mannetjie kom vlerksleep.
Daarteenoor sal motwyfies bloot ’n sterk reuk genaamd feromoon afskei om motmannetjies binne ’n straal van drie tot vier kilometer aan te lok. Die mannetjies onder die vuurvliegies gebruik weer ’n reeks ligflitse om wyfies na hulle toe te trek. Die mannetjies van die spinnekoppe en hottentotsgotte loop gedurig gevaar dat die wyfies hulle kan opvreet. Selfs gedurende die paring kan die wyfidie mannetjie bydam en sy kop summier afbyt. Daarom gebeur dit dat die mannetjies soms die wyfies se aptyt probeer demp. Een soort spinnekop, Pisaura mirabilis, nader byvoorbeeld die wyfie met ’n geskenk: hy bied haar ewe romanties ’n vlieg aan wat in sy toegedraai is.

Baie keer gaan die hofmakery met ’n magstryd gepaard. Die mannetjie, wat sy gebied opgeëis het, is vyandig teenoor indringers. Hy kan verwoed vir sy wyfie veg, maar die stryd duur nooit lank nie, omdat dit nie vir die sterkste dier moeilik is om homself te bewys nie.
Die uiteinde is selde noodlottig omdat die geveg om die liefde ’n sportiewe ritueel eerder as ’n saak van lewe en dood is. Baie dikwels, in ’n trop, sal die mannetjie wat gewen het met al die wyfies paar. ’n Leeu-gesin bestaan uit een mannetjie met ’n harem van wyfies en hul welpies. Die gompou-mannetjies op die grasvlaktes van Afrika voer ’n indrukwekkende dans met trillende krete uit wanneer hulle kom vry.

Die wyfies staan by om te kyk en te beoordeel. Wanneer hulle die beste danser gekies het, gaan sit hulle voor hom. Net hy sal ’n pa wees. Baie diere reël instinktief hul paring só dat die kleintjies vroeg in die lente in die wêreld sal kom wanneer daar oorgenoeg kos is en hulle die beste kans het om te oorleef. ’n Verandering in die weer kan ook tot ’n hofmakery lei. Visse sal reageer as die water warmer word. Paddas lê hul eiers wanneer die reën begin val. Só sien ons in die groot verskeidenheid van die skepping ’n vervulling van byvoorbeeld die seën in Genesis 1: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon al die waters van die see. En laat die voëls baie word op die land…” Die spel van die liefde verseker ook die voortbestaan van ons natuur.