Lou-Anne Kafee word amper 60

Blink Boer het gaan inloer by Lou-Anne Kafee. “Lou-Anne kafee is die langsbestaande kafee in Brits, dit is nou 58 jaar,” sê Oom Johan trots.

“En die naam Oom?” wil ons graag weet. “Frikkie Bresler het oorspronklik vir sy skoonsusters Lou en Anne die kafee oopgemaak. Dit is waar die naam vandaan kom.

Die eiendom het oorspronklik aan Gustav van Heerden behoort en later het Willie Stander die perseel oorgeneem. Tannie Lou het die kafee vir so 20 jaar gehad en toe verkoop sy aan ‘n Oom en tannie Elgar. Tannie Elgar het ook self in die kafee gewerk. Tannie Lou het die grond destyds aan die PV3 oord nog geskenk.” verduidelik oom Johan. “Hulle het weer op hulle beurt die kafee aan portugese verkoop. Ek het 23 jaar gelede by die portugese Lou-Anne kafee gekoop.
Oom Johan en tannie Annette werk self in die kafee en skram nie weg vir lang ure en harde werk nie. Saam met hulle sentimen- tele kafee het hulle ‘n yslike familie met 6 geliefde kinders. Hulle heg net soveel sentiment ook aan die name vir die kinders. “So deur die jare het honderde boere en mense in die gemeenskap ons geondersteun.

Deesdae is 90 % van ons kliënte swartmense. Ek het juis een kliënt in Letlhabile wie se kinders so lief is vir ons “slap chips” dat hulle versuim om dit te eet as dit nie by ons gekoop is nie!” skater Oom Johan van die lag.

Oom Johan het ook Waldorf kafee in Murraylaan gehad en Monati kafee in die industriële gebied. Wat kan ons plaaslike kafeemagnaat ons vertel van kafee hardloop? “Kwaliteit, goeie pryse en goeie diens loop hand in hand. Dit is nie te sê as iets goedkoop is, moet dit swak kwaliteit wees nie.” sê Oom Johan baie ernstig. “Ons hamburgers word met “toast brood” gemaak en nie met buns nie. As daar 6 mense was wat my al vir ‘n bun gevra het is dit baie.” Wat opvallend is by Lou-Anne kafee is hulle lae pryse. Waar kry ‘n mens nog deesdae ‘n kaas en tamatie roosterbroodjie vir R9.00?