Maak Jou Eie Erdwurmkompos…

khokhwane

So werk dit

Die wurmplaas is ‘n houer, gewoonlik van plastiek, met ‘n deksel en verskillende lae of kamers waardeur die wurms opbeweeg namate hulle die afval opvreet. Heel onder is daar ‘n dreineringspan vir die afvalvloeistof. Dié pan het ‘n kraantjie waar jy die vloeibare bemesting kan aftap. Soos jy bietjies vars afval byvoeg, wriemel die wurms boontoe om dit te vreet, en sak hul mis af.

 

As jy daarvoor kans sien, kan jy jou eie wurmblik maak van stapelhouers, sifdraad, ‘n aftapkraan en ‘n sintetiese deksel. Die maklike uitweg is om een te koop. Daar is twee modelle te kry by Full Cycle, wat landwyd bestellings uitvoer. Skakel 021 789 2922 of besoek www.fullcycle.co.za vir meer inligting.

Wat jy nodig het:

erdwurm-kompostoestel of wurmplaas
minstens 1 000 wurms
kombuisafval (nat én droog)

So maak jy

1 Sit die wurmplaas op ‘n plek waar die temperatuur tussen 12 °C en 25 °C is. Die wurms boer vooruit in ‘n donker, vogtige omgewing met goeie lugsirkulasie. Hou dit in die somer uit direkte sonlig en maak dit in die winter in ‘n skuur of garage staan. ‘n Kompostoestel wat goed werk, ruik glad nie.

2 Voer die wurms gereeld opgekapte kombuisafval soos groenteskille, eierdoppe, vrugteskille, oorskietkos, teeblare, koffiemoer, geskeurde koerantpapier, stukkies karton en stof uit die stofsuiersak.

3 Tap gereeld die vloeistof uit die dreineringspan en gebruik dit so gou moontlik omdat dit ‘n bederfbare produk is. Gebuik dit as ‘n ‘soil drench’ of ‘n ‘foliar feed’.

4 Sodra die onderste pan byna vol is, kan jy die kompos uithaal en gebruik. As die toestande ideaal is, sal die wurms jare lank aanhou vreet, broei en kompos maak.