Maak Jou Huis Mooi Vir Goedkoop

blinds, luvers, binnehuis, buitehuis, blinders, cover, huis, home1. Snoesige sofa

Strooikussings of ’n snoesige deken is maklike (en bekostigbare) maniere om jou sofa ’n nuwe baadjie aan te trek en voeg kitskleur toe tot ’n andersins saai vertrek.

 

2. Veeldoelige verf

Die vinnigste manier om enige kamer se voorkoms ’n hupstootjie te gee, is deur die mure te verf. Bespaar deur net een muur as ’n fokuspunt te verf.

 

3. Die “vyfde muur”

Moenie die vyfde muur vergeet nie! Die meeste mense hou by ’n wit plafon, maar ’n kleurvolle plafon in ’n teenstellende kleur lok die oog na iets opwindends daar bo (en weg van jou ou mat wat jy nog nie kon vervang nie).

4. Terug na die natuur

Koop ’n paar kruieplantjies en mooi blompotte (of verf ou potte) by jou plaaslike kwekery. Plaas die potplante op jou koffie- of eetkamertafel of selfs in jou kombuis vir ’n vars voorkoms.

5. Fees vir die oog

Skep ’n middelpunt wat jou nie te veel gaan kos nie deur vrugte (soos appels of lemoene) in ’n bak, mandjie of glasvaas te plaas. Dis nou kitsdekor dié!

6. Tweede viool

Kry meer uit jou meubels deur meubelstukke vir iets anders te gebruik as waarvoor dit bedoel was. Jy kan byvoorbeeld ’n stoel wat nie pas nie afskuur en/of verf en dit dan as ’n bedkassie inspan.

7. Bottels, bottels op ’n ry

Verander ’n leë rak of ’n vensterbank in ’n fokuspunt deur ’n versameling leë glasbottels daarop uit te stal. Kyk hier hoe jy pragtige vase kan maak deur leë bottels en plakboekpapier (scrapbooking paper) te gebruik.

8. Raak heldersiende

Blaas nuwe lewe in ’n ou lamp: sproeiverf die basis en ruil die lampskerm om vir ’n nuwe een. Jy kan selfs jou eie skerm maak deur die ou raam met nuwe materiaal oor te trek.

9. Blink kant bo vir badkamers

Die maklikste (en mees bekostigbare) manier om jou badkamer sommer splinternuut te laat lyk, is om die stortgordyn, badmatjie en handdoeke te vervang. Laat jou badkamer in ‘n kits anders lyk deur eenvoudig net die kleure te verander.

10. Kikker jou kaste op

Gee die hart van jou huis ’n nuwe voorkoms sonder om die spaarbussie stukkend te slaan. Jy kan óf jou kombuiskaste ’n nuwe lagie verf gee óf jy kan ’n paar van die kaste se deure afhaal, die binnemuur van die kaste met muurpapier uitvoer en siedaar! – pragtige uitstalrakke wat jou sente in jou sak hou!