Markus wys Brits se vis is eetbaar – die geheim is uit!

DSC00273In ons omgewing sal jy nie sommer ‘n plaasdam kry waarin daar nie vis in is nie. Die algemeenste vis is kurper, karp en barber. Die groot damme van ons omgewing is hengelparadyse, dis nou Hartbeespoort, Rooikoppies en Vaalkop.

Oraloor hoor ons dat vissermanne die vis vang slegs vir sport of ontspanning. Die vis is oneetbaar en smaak na modder, is wat almal sê. Almal weet ook dat die moddersmaak te wyte is aan die groot konsentrasie van blou-alg in ons waterbronne. Blou-alg floreer in water waar hoë nitrate voorkom. Ons groot damme het ‘n 100% teenwoordigheid van die blou-alg wat natuurlik as gevolg van besoedeling floreer.

Ons het gehoor dat Markus Willers, wat op Kareepoort boer, die vis spreekwoordelik skoonmaak van die blou-alg en die eindproduk is die heerlikste vis denkbaar. Ons het gaan kyk want ons is mos nuuskierig. Ons was baie beïndruk.

Hoe het dit begin? Markus het ‘n normale boerdery en noem dat hy damme gemaak het wat hy met boorgatwater aanvul om sy lande te besproei. Sy water is skoon en die gedagte het by hom opgekom om met visse te eksperimenteer. Hy reken dat sy damme ongeveer ‘n 5% blou-alg teenwoordigheid het. Die eksperiment het intussen uitgebrei en vandag is daar sewe damme met nog ‘n paar in aanbou en die publiek vang vis by die Oppiekoppie Bass Farm op sy plaas. Hierdie is ‘n eksperiment wat nie skeefgeloop het nie.

In die gesprek kom ons agter dat hy homself behoorlik ingestudeer het en hy praat met gesag oor ons inheemse vis. Hy is ook ‘n lid van die Tilapia Studiegroep wat gedurig in gesprek is met die regering oor ons varswater visbronne. “In die aqua-bestuur van ons land kom dit duidelik na vore dat ons nie ‘n genetiese vis het waarmee ‘n visboer suksesvol in besigheid kan gaan nie,” sê Markus. “Wetgewing briek ons en die owerhede reken dat daar ander, goedkoper proteïnbronne is. Suid-Afrika sal indringend na visteling moet kyk, spesifiek die teling van bloukurpers. Ons het byvoorbeeld ‘n deurbraak geïdentifiseer waar die Nylkurper, die noliticus, baie suksesvol in ons waters kan floreer. Die noliticus is ‘n vis wat maklik 4 kilogram groot word teenoor die bloukurper se gemiddelde gewig van 1,5 kilogram. Die nylkurper het op ‘n natuurlike wyse so ver in Afrika af migreer dat dit algemeen voorkom in die Okavango en selfs die Kariba meer.”

Oor die bloukurper deel hy interessante inligting – hierdie vis is baie tuis in soutwater en gebruik die oseaan om by riviere in te kom. Hy reken dat die bloukurpers in die Ooskaap van die suiwerste vis is. Verder noem Markus: “Dit lyk asof ons kanse om die owerheid te oortuig om die nylkurper in ‘n geslote omgewing toe te laat, vrugte gaan afwerp. Ons het begrip daarvoor dat wetgewing om die biodiversiteit van ons riviere en waterbronne te beskerm noodsaaklik is. Ons is streng voorstaanders daarvan en probeer ook om met ‘n oop gemoed te kyk na verskeie alternatiewes wat ‘n hupstoot kan gee in ‘n wêreld wat gedurig aan die verander is.”

Wat is jou indrukke hier? “Toe ek met die projek begin het, was dit hoofsaaklik gemik op waardetoevoeging tot my normale boerdery deur die damme oop te stel vir die hengelaar. Hier is dit suiwer vang en loslaat of catch and release soos hulle in Engels sê. Ons het net inheemse spesies soos karp, barber, kurper en bass, waarvan die vang van die laaste twee die gewildste is. Soos die projek gevorder het, het my entoesiasme natuurlik ook toegeneem en ek is regtig beïndruk met die tipe hengelaar van vandag. Dit is ernstige mense wat hulle sport maksimaal geniet. Hier kom dagbesoekers en ons het ook fasiliteite vir kampeerders,” sê hy.

In ons gesprek huiwer Markus nie om sy kennis met ons te deel nie en vinnig gaan die gesprek oor die moontlikheid van varswatervis as ‘n bron van kos. Baie interessant noem hy dat varswatervis nooit ernstig deur die beplanners opgeneem was as so ‘n tipe van bron nie. Tradisioneel sou die blanke hengelaar ‘n paar filette uitsny terwyl die swartes dit hoofsaaklik vir sop gebruik. Met die groot teenwoordigheid van veral Zimbabwiërs en Mosambiekers in ons land het vis skielik gewild geraak omdat daardie mense dit as ‘n groot voedselbron in hulle lande van herkoms gebruik. Hierdie ontdekking van die notilicus wat ‘n vis is wat 4kg kan bereik, skep ‘n unieke geleentheid om hierdie voedselbron maksimaal te benut in belang van ons land. Hierdie is ‘n uitstekende kans om ‘n onverwagte uitvoergeleentheid, veral na die Oosterse markte te ontwikkel. Die tilapia, of te wel kurper, is ‘n absolute lekkerny in daardie markte. Doen julle iets hieromtrent? “Ongetwyfeld,” sê hy en ons kan sien dat hy nie verder hieromtrent wil uitwei nie. Ons kom dadelik agter dat hier ‘n storie agter die storie is en ons laat dit daar.

Immers, ons het kom kuier om uit te vind hoe mens ons eie vis kan eet en, bewus van die kwaliteit van ons boere, besef ons weereens dat ons net die ore van die seekoei raakgesien het. Ons gaan verseker weer terugkom om meer te wete te kom.

Hy sê ons kan ons eie vis eet – dit is die hoofrede vir ons kuier. Ons begin om aan Markus te verduidelik dat die verskillende streke in ons land unieke, eiesoortige produkte het wat hulle baie effektief in hulle eie omgewings bemark. Ons dink byvoorbeeld aan die volstruise van Oudtshoorn, die forelle van die Dullstroom gebied en die rosyne van die Oranjerivier. Soos ons by Blink Boer al hoeveel kere berig het oor die enorme suksesse van ons omgewing, is die benutting van ons varswatervisbronne nog steeds aan die onderpunt van die leer. Die naaste wat ons kon agterkom, was dat Lettie Pretorius, Faan se vrou, blykbaar ‘n uiters smaaklike viskoekie maak van hoofsaaklik barbers. Ons het dit nog nie kon proe nie, maar ons pêlle wat weet sê daardie viskoekies is fenominaal.

Markus glimlag en sit rustig agteroor. Nou weet ons – hier kom die geheim! Baie ernstig sê hy: “Ek is ‘n fanatiese vismens. Enige viskos is iets waarmee jy my in ‘n wip kan vang. Wanneer ek by die see is, is dit net vis, vis en vis. Ek eksperimenteer graag en huiwer nie om my ervaring met jou te deel nie. Die moddersmaak van ons vis het my al lankal gepla en met behulp van die kundiges waarmee ek in aanraking is, het ek besef dat daardie blou-alg uit die vis se sisteem moet kom. Ek het ook intens na boererate geluister van suurlemoensap, die aftrek van die vel en dat die vis net in sekere seisoene geëet kan word. Ek het regtig met ‘n oop gemoed geluister. Die oplossing het skielik by my opgekom. Daardie vis lê in die dam en eintlik is hy glad nie aktief nie. Hy moet, so te sê, skoongespoel word. Ek het ‘n tenk prakseer met ‘n pomp wat die water uitsuig en weer inlaat. Omtrent soos die ou wasmasjiene van destyds, spoel die water in die rondte en het die visse daarin gesit. Nou moet hierdie kêrel begin swem! So spoel sy gestel skoon en hulle word selfs so lank as twee weke in die tenk gehou. Die resultaat is ‘n ‘skoon’ vis wat se smaak jou sal verbyster. Jy kan hom diepbraai, rook of basies vir enige resep gebruik. Die resultaat is ‘n vis wat in baie gevalle, lekkerder as ‘n seevis is.” Kan jy nou meer – ons lesers moet onthou dat julle dit eerste by Blink Boer gehoor het!

Markus is ‘n rustige en innemende mens. Sy kennis beïndruk. Moontlik sal hy die oorsaak wees dat ons top restaurante binnekort verskeie inheemse visgeregte op hulle spyskaarte gaan hê.