‘n Tandarts vir perde? – raar maar waar

Hantus Eksteen werk aan die kampioen se tande
Hantus Eksteen werk aan die kampioen se tande

Gelukkig weet ons vriende ons is nuuskierig. Enigeen wat in die joernalistieke wereld wil gaan rondtorring, moet nuuskierig wees. Daar is mos gevestigde begrippe van nuushond, daardie ou het ‘n nuusneus en ons almal is maar pleinweg nuuskierig. Ons ook.

Moleine van Staden is ‘n goeie vriendin van Blink Boer. Sy bel om te sê dat ‘n Equane Dental Technician aan Quality Cants se tande gaan werk, ons is welkom om te kom kyk. Goeie genugtig – dit klink Grieks! Ons is mos nuuskierig en ry dadelik om te gaan kyk wat se vreemde wesens is nou in Brits.

Op pad soontoe werk die brein in snaakse ratte en ons begin afleidings maak. Ons is mos nie heeltemal stupid nie. Ons weet Moleine het saalperde – Amerikaanse saalperde om presies te wees. Hierdie moet ‘n perdestorie wees. Dit is toe ‘n perdestorie.

Moleine groet hartlik en stel ons met ‘n groot glimlag voor aan Hantus Eksteen, ‘n Equane Dental Technician. Hy is ‘n perde tandarts. Die raaisel klaar op toe Moleine vir Quality Cants ook voorstel – haar kampioenperd. ‘n Pragtige 15 jarige kampioen wat ouer as sy ruiter is. Driegang kinderklas kampioen. Nou stel ons baie belang in die storie.

Hantus sien ons totale oorbluftgeit en begin op ‘n mooi verstaanbare manier verduidelik wat hier aan die gang is. “Perde,” sê hy, “se tande hou nooit op met groei nie. Alle perde se tande groei ‘n gemiddeld van 2 tot 3 millimeter per jaar.” Hy sê hulle noem dit hipsodonties. As gevolg hiervan moet die tande gereeld slyt – in die natuur gebeur die slytproses outomaties as gevolg van wilde perde se eet- en kougewoontes. “Kompeterende perde soos hierdie kry natuurlik ‘n totale ander voeding as wilde perde en hulle tande behoort elke ses maande gedoen word,” sê hy. Hy noem dat, as daar nie hierna gekyk word nie, die tande ‘n irritasie vir die dier word en skade in die mond aanrig. Hoofsaaklik snye in die wange. Moleine dra ook by tot die gesprek en sê dat ‘n tipiese simptoon is wanneer die perd, soos hulle dit stel, ‘kopspeel’. Die kop gaan heeltyd op en af. Leke dink die dier is laf, maar intussen is dit ‘n irritasie wat dit veroorsaak.

Hantus kom aan die gang deur ‘n soort klem of klamp in die perd se bek te sit. Daar is nou ‘n gat wat nie kan toeklap nie. ‘n Groot tipe van vyl gaan nou die bek in en dit lyk soos om tande te borsel – net op ‘n baie groter skaal. Die kampioen lyk rustig – immers is hy mos ‘n kampioen. Hantus sê sy grootste seer was toe hy bietjie agterlosig was en ‘n bek het toegeklap. Hy het amper ‘n vinger verloor. Die proses duur sowat 15 minute en die kampioen lyk weer waardig – geensins gesteurd nie.

Waar kom mens aan so ‘n beroep? Hantus verduidelik dat hy sy kwalifikasie in Australië gekry het. Hy skat dat daar sowat tien soortgelyke kollegas in die land is en hulle is nou in die proses om ‘n nasionale vereniging te stig. Op ‘n besige dag kan hy aan sowat 13 tot 15 perde se tande werk.

Op ons vraag skat hy dat daar sowat 2500 perde in ons omgewing is, die meeste is in die omgewing van Hartebeespoortdam.

Nadat ons Moleine gedreig het dat ons nog haar perdestorie wil hoor, ry ons daar weg. Weer iets geleer en weereens tot die slotsom gekom dat ons boerderygemeenskap by die dag meer interessant raak.