Ondersteun Plaaslike Boere En Staan Saam

oekraine-landbouw-470x340Ons plaaslike boere het regtig ons ondersteuning as ‘n gemeenskap nodig – dit help ook met betrekking tot voedselsekerheid in ons geweste en dit ondersteun ook werkskepping.

Dit is baie belangrik dat ons ons eie mense van herte ondersteun. Ons as ‘n gemeenskap moet saam staan en in die bresse vir mekaar tree. Sonder boere en landbou is daar tog geen voedsel nie – dis ‘n uiterste belangrike saak.
Daar is verskillende omstandighede in ons land wat dit f makliker of moeiliker vir ons boere maak.
Dit word verder bespreek – maar vir nou wil ek die klem lê op saamstaan en mekaar onder die hart te dra in ons huidige ekonomiese klimaat. Boere in die Laeveld is keelvol vir plaaslike groothandelaars wat hulle nie ondersteun nie. Baie boere moes al die handoek ingooi omdat hul produksiekostes nie met die lae pryse van kommersiële plase kan kompeteer nie.

“Só baie van hierdie handelaars vertoon plakkers wat lui ‘ondersteun jou plaaslike boer’, maar nie een van hulle koop regtig by plaaslike boere nie.” ‘n Boer in die area, wat verkies om anoniem te bly uit vrees vir regstappe, maan dat aansoeke om hul produk op plaaslike rakke te kry, nie eers erken word nie.

“Dit kos duisende rande om ons produk net by plaaslike winkels gelys te kry,” sê die boer. “Maar, dan kompeteer ons met kommersiële boerderye wat hulle oortollige voorraad teen ‘n belaglike lae prys hier verkoop.” Hy verduidelik dat kommersiële boerderye óf hul oortollige voorraad kan weggooi, indien hul produk bederfbaar is soos vars goedere, óf hulle kan dit na vergeleë dorpe vervoer en teen ‘n baie lae prys verkoop.

“Daar is baie nadele om vars kommersiële produkte te koop. Die produk neem omtrent vier dae tot dit by die verbruiker uitkom. As jy by jou plaaslike boer koop, kry jy dit nog dieselfde dag. Al is die produk ‘n klein bietjie duurder, jy kry beter kwaliteit produkte wat deur minder ‘prosesse’ moet gaan om by die verbruiker te kom. Plaaslike produkte is kwaliteitprodukte wat vars verskaf word.” Plaaslike boerderye bevoordeel nie net die boer nie. “Ons stel honderde plaaslike mense aan, wat bydra tot die plaaslike ekonomie.” Hierdie boerdery is al 30 jaar in die Laeveld.
Hulle staar ‘n ramp in die gesig omdat plaaslike supermarkte dit bykans onmoontlik maak vir plaaslike boere om hul produkte op die winkels se voorraadlys te kry. “Al voorraad wat supermarkte van ons koop, is dié waarop hulle hul eie handelsmerk plak. Ons plaas se naam mag nêrens op die produk staan nie.

En soms, wanneer hul verskaffer hul in die steek laat, kontak hulle ons.” Die eienaar van ‘n kettingsupermark in Mbombela verduidelik dat seisoenale vars goedere gewoonlik van ander dele van die land vervoer word wanneer dit nie plaaslik verbou word nie. “Ons probeer soveel as moontlik plaaslik koop om ons plaaslike boere te ondersteun, maar realisties kan ons nie altyd nie.”

Die winkeleienaar sê indien boere hul produk by die winkels gelys wil hê, moet hulle die eienaars net gaan sien en laasgenoemde sal dan ondersoek instel om te sien of die produk op standaard is. So, wat jy as verbruiker dan kan doen is om plaaslike jou groente en vrugte binne seisoen te koop. So ondersteun jy jou plaaslike boer, en so is dit dan goedkoper. Onthou – buiteseisoen is alles duurder aangesien dit ingevoer moet word. Dit is tyd om elke sent om te draai en dit sluit outomaties die ondersteuning van plaaslike boere – doen dit vandag gerus!