Oorgewig En Tekort Aan Voedselkennis.

fat-vs.-skinny-womanAs dit kom by ons boeremense en kos is daar altyd gemengde gevoelens – en moenie eers die woord gewig noem nie. Dit is ‘n uiterste sensitiewe saak. Ons dames veg tand en vurk as dit kom by dieët. Die een om meer op te kou met die tande en die ander om die vurk voor ‘eet’ te steek… Lees verder geliefde ‘ronde en gesonde’ leser voor jy die tydskrif in woede toeslaan. Ons oordeel nie – ons redeneer net. Baie mense verstaan dat dit alles te doen het met die hoeveelheid wat jy eet, maar dit het eintlik meer te doen met presies wat jy eet.

‘n Mens kan byvoorbeeld baie vrugte en matig vleis eet en nogsteeds gewig verloor of jou optimale gewig behou. Al wat jy moet uitsny is die stysel. Maar vir baie van ons beteken ‘kos’ meerendeels stysel. Dit is net daar waar die probleem begin. Die meerderheid van ons daaglikse voedsel inname hoort groente en vrugte te wees, tweedens proteïene en laastens of liewers glad nie stysel nie.

‘n Mens noem dit ‘n gebalanseerde dieët. Ander weer sal dit maklik takseer as honger ly. Daar is deesdae veel opspraak oor die nuwe leefstyl dieët genaamd Harvey/Banting. Dit behels die uitsny van stysel, met meer vet, matige proteïne inname en die eet van vrugte word ook vervang as ‘n gesonde vorm van suiker. Dit is die inname van te veel vet en stysel saam wat klaarblyklik die om die middellyf en op ander plekke juis gaan sit.
Diegene wat hierdie tipe dieët volg noem dit meer ‘n lewenstyl as ‘n dieët. En, dit is ook ‘n makliker manier om gesond te lewe en om stelselmatig gewig te verloor. Dit sny suiker heeltemal uit so dit is veilig vir diabete ook. In ‘n neutedop kan die leefstyl dieët as volg opgesom word: Dit is nie ‘n hoë proteïne dieet nie. Dit is bevat ‘n hoë vet inname, matige proteïene inname, en baie laag of geen stysel – maar geen suiker nie of so min as moontlik – dit word as ‘n verslawing aanskou.

Verdere raad is om te onthou dat vet nie die vyand is nie, dis stysel. Eet net as jy honger is, eet genoeg totdat jy versadig is, hou dan op. Sny verfynde kossoorte uit en maak ‘n einde aan happies tussen etes. Eenvoudiger as dit gaan jy dit nie kry nie. Of hiérdie tipe leefstyl dieet vir jou gepas is sal jy alleenlik kan besluit – maar een ding is seker, navorsing wys dit is makliker en meer volhoubaar as die ‘blaarslaai en blokkie kaas’ dieet.

So nou dat jy as leser beter weet, hoekom pak julle nie die uitdaging by die horings nie? Onthou, jy mag maar jou braaivleis hou (dink horings). En ons ou boere sal tog vir jou sarkasties se “die bees eet die groen goed, ek eet die bees, so ek kry vleis en ‘groente’ mos in.” Ek onthou die woorde van bekende veeboer. En as ou oom Jakobs dit so kon doen dan hoort dit vir ons jonger geslag nog makliker te wees of nie?