Oorsprong van die Tamatie

Die oorsprong van die tamatie dateer sover terug as 700 nC en het sy oorsprong vanuit Amerika. In die 16e eeu het Europa die groente leer ken nadat die ontdekkingsreisigers nuwe werelde ontdek het.

Aanvanklik het die meeste Europeërs gedink dat die produk giftig is. Die ryk mense se kookpanne het ‘n loodinhoud gehad en die sure van die tamatie het veroorsaak dat die lood smelt en met die kos in aanraking kom – voedselvergiftiging en sterftes het voorgekom. Die arm mense het uit plankborde geëet en het niks oorgekom nie. Tamaties is hoofsaaklik deur arm mense, veral die Italianers geëet tot in die 1800’s.

In die 1800’s het die gety geswaai as gevolg van die immigrasie van Europeërs na Amerika en gou-gou het die pizza tot stand gekom. In 1880 om presies te wees. Geen pizza is gemaak sonder tamatiesous nie. Die storie is dat ‘n restauranteur van Napels die pizza geskep het om die besoek van koningin Margarite, die eerste Italiaanse monarg sedert Napoleon Italië oorgeneem het, te gedenk. Hy het seker gemaak dat die bestanddele die kleure van die Italiaanse vlag; rooi, wit en groen verteenwoordig. So is die Pizza Margarite gebore met die tamatie vir die rooi, mozzarella kaas vir die wit en basilie vir die groen. Hierdie is vandag nog die standaard vir die pizza.

Is ‘n tamatie ‘n vrug of groente? By definisie is ‘n vrug ‘n eetbare gedeelte van ‘n plant wat sy ontstaan het van ‘n blom van so ‘n plant, gewoonlik rou geëet word en soet is soos byvoorbeeld appels. Die produkte wat nie soet was nie, soos tamaties, komkommers, soetrissies ensovoorts was gewoonweg beskou as vrugte. In die laat 1800’s, in Amerika, is die tamatie as ‘n vrug geklassifiseer om sodoende van belasting vrygestel te wees. ‘n Hofuitspraak het beveel dat die tamatie groente is en gevolglik onderhewig aan belasting sal wees.

Die arme tamatie sou in Suid-Afrika ‘n totale identiteitskrisis gehad het. Vanaf ‘n giftige plant is hy herklassifiseer na ‘n belastingontduikende vrug en toe word hy ‘n ‘n belastingbetalende groente! Elk geval, hierdie groente bly oorleef en gaan van krag tot krag en word deur miljoene mense regoor die wereld geniet.