Pamperlang jouself met blomme by die Pamper Boutique

DSC_1002

Dit is moeilik om die regte blomme op die regte tyd in die hande te kry. Net soos groente en vrugte het blomme ook spesifieke tye in die jaar wat dit blom en tot ons beskikking is. Petro Lester van The Pamper Boutique in Hartbeespoortdam het ons ‘n ding of twee vertel van blomme en die dienste waarvoor hulle bekend staan. The Pamper Boutique is die ideale plek om te stop vir alles wat jy nodig het vir enige funksie.

Jy kan dekor, geskenke, koeke en blomme by hulle kry. Hulle bied ook werkswinkels aan een keer ‘n maand op ‘n Saterdag om die wat ‘n bietjie meer wil weet van hoe om blomme rangskikkings te doen, touwys te maak. Hulle is deel van Interflora wat beteken dat jy net die beste blomme kry.

“Die blomme wat op hierdie oomblik die gewildste is en wat ook in seisoen is, is rose, krisante, lelies en proteas. Hulle vier is geharde blomme. Die rose wat die bruide en vrouens meeste van hou is die pienk, appelkoos en wit kleurige rose. Die proteas is die Venus en Koning Protea.” sê Petro.

Daar is ook ‘n spesifieke krui wat gebruik word in blomme rangskikings wat baie goeie mediese voordele het. Die Eucalypthus plant. Deur net die blare te kneus en die takkies in water te los kan ‘n aroma afgee wat jou sinusse kan oopmaak. Kneus net kort- kort die takkies en daai loop neus sal iets van die verlede wees. Dit is ook baba vriendelik. Deur die takkies te kneus in jou hande en bietjie op baba se hempie te smeer sal ook die kleinding help met enige sinus probleme.

“My gunstelling en ook die mees interessantste blom vir my is die lelie. Dit is vir my so mooi hoe die blom as hy toe is oopmaak en die perfekte kelkie vorm.” vertel Petro, “Onthou om die stingeltjies binne in die blom uit te haal, want dan sal die blomme langer hou en ook nie meer vlek nie.”

En hoe gemaak as jy blomme uit jou tuin pluk en jy wil hê dit moet lank hou? Jy kan Jig in die water gooi en elke keer as die water vuil raak die water vervang en ‘n stukkie van die blomme se steeltjies afknip. Blomme floreer in skoon water en sal langer hou as dit in die regte toestande geplaas word.