Rooikoppiesdam -‘n Tydbom?

Die Rooikoppiesdam
Die Rooikoppiesdam

Die Rooikoppiesdam vorm ‘n integrale en belangrike deel van die totale waterprentjie van ons omgewing. Verseker ook ‘n belangrike onderdeel van die nasionale waterstrategie- of plan.

Hier in ons omgewing is daar drie damme wat elkeen ‘n baie belangrike funksie het. Die prentjie begin met die Hartbeespoortdam wat water noordwaarts verskaf. Die dam doen dit deur water los te laat in die kanaalstelsels en die Krokodilrivier. Sowat 25 kilometer vanaf Brits loop die rivier in die Rooikoppiesdam in. Daar gebeur twee goed. Water word in ‘n kanaal losgelaat na die Vaalkopdam en water word in die rivier losgelaat vir boere om te pomp en hulle lande nat te maak. Vaalkopdam het weer ‘n eiesoortige probleem met sy waterinlaat. Die dam word natuurlik gevoed deur die Elandsrivier en die verskeie sytakke. Daar gebeur ook twee goed. Die dam laat ook water in die rivier los wat ‘n entjie verder by die Krokodilrivier aansluit en dan gaan die water Limpopo toe. Vaalkopdam het ook ‘n baie groot watersuiweringsaanleg (sien berig elders). Opsommend is dit ons waterprentjie.

Die kanaaltoevoer vanaf die Rooikoppiesdam is lewensnoodsaaklik vir die Vaalkopdam. Sy natuurlike inlate is seisoenaal, met ander woorde, slegs in die reenseisoen. Die dam se waterbehoefte is baie hoog en sonder die hulp van die Rooikoppiesdam het hulle moeilikheid. Ons praat ook in ons berig oor die Vaalkopdam hieroor.

Die swak kwaliteit van ons natuurlike water, hoofsaaklik as gevolg van besoedeling is al lankal vir ons almal ‘n steen des aanstoots. Ons voel die owerhede doen nie hulle werk nie. Almal skel, raas en soek antwoorde. Hulle antwoorde ervaar ons as vaag en ontwykend. By Blink Boer sal ons aanhou vra en aandring op aksie. Dit is enige verantwoordelike mens se plig.

Met hierdie sensitiwiteit oor water en die beskerming daarvan behoort enige verantwoordelike owerheid bedag te wees op nuwe bronne van besoedeling en daadwerklike stappe neem om dit te voorkom. Feitlik oornag het ‘n informele nedersetting – of pleinweg plakkers – hulle gaan vestig aan die oewer van die Rooikoppiesdam, net onderkant die bekende Green’s kompleks. Dit het al so lank as 3 jaar gelede gebeur. Die boere en belanghebbers van die omgewing het uiteraard dadelik alle meganismes gebruik om hierdie nuwe grilprent onder die aandag van alle amptelke waghonde te bring; landbou-unies, politieke partye en die munisipaliteit – dis nou Madibeng.

Ons het vir Eddie van der Merwe, wat in beheer is van die Rooikoppiesdam gaan vra wat daar aangaan. Hy sê dat hy sy werk gedoen het en hierdie potensiële krisis aan sy hoofkantoor gerapporteer het. Ons vra hom of hy weet wat hulle daaromtrent gedoen het. Hy sê hy weet nie, want alles lyk soos ‘business as usual.’

Omgewingskundiges is baie besorgd oor hierdie nuwe euwel. Hulle is woedend oor hierdie verdere potensiaal van vernietiging van ons natuurlike hulpbronne. Tereg vra hulle waarheen gaan daardie mense se afval en riool. Die antwoord is mos nie moeilik nie – natuurlik in die dam. Die damwater is reeds substandaard. Dit gaan mos vererger met gepaardgaande siektes en besmetting.

Hennie Barnard is die aangrensende boer en ons bel hom. Weereens kom die realisme van ons Brits-boere na vore. Hy bevestig alles wat ons weet en sê dat daardie grond, wat aan die Staat behoort, grond is met ‘n baie hoë landboupotensiaal. Hy het aangebied om, met sy mede-boere, enige opkomende boer te help met kundigheid en advies om daardie grond in ‘n winsgewende entiteit te omskep. Wragtag – niemand het hom geantwoord nie!

Daar is baie voorbeelde van ons Brits-boere wat die opkomende boere help met kundigheid en advies. Dis mos hoe ons mense, as realiste, werk.

Ons is toe in die situasie van radeloosheid. As verantwoordelike joernaliste moet ons mos tot die kern deurdring. Die antwoord tot ons ellende kom toe deur Leon Basson – hy is mos ons Parlementslid. Ons ontdek dat hy totaal in beheer van die situasie is. Ons sien hom saam Eddie Barlow waar hulle in vergadering is en nie omgee om onderbreek te word nie.

‘Leon, wat de duiwel gaan hier aan?’ – is ons openingswoorde. Hy glimlag ligweg en begin feite aframmel oor sy vrae in die Parlement aan die Ministers van Water en Sanitasie, Openbare Werke en so aan. Leon verduidelik dat die grond aan die Staat behoort, met ander woorde, die Departement van Openbare Werke. Hy is baie besorgd oor gerugte van raadslede van Madibeng wat erwe aan die plakkers verkoop het. Verdermeer het hy ‘n “boulvraag” aan die Minister gevra om die resolusie van die Madibeng Stadsraad vir die vestiging van die nedersetting te openbaar. Die antwoord was dat daar geen resolusie was nie. In eenvoudige taal beteken dit dat die Madibeng Stadsraad weereens op hulle eie, iets probeer vestig het sonder om enige rolspelers in te lig of te raadpleeg.

Leon raak toe driftig en sê: “Madibeng is in onvermoë om dienste te lewer. Hulle kan in hierdie stadium nie eens hulle bestaande dorpsgebied bedien nie. Rakende water en sanitasie is hulle tans onder administrasie in terme van Art 139.1(b) van die Grondwet. Hierdie aspekte is nou oorhandig aan Magalies Water om te bestuur. Om Madibeng se infra-struktuur te herstel, het hulle ‘n begroting van R750 miljoen by die Departement van Water en Sanitasie ingedien waarvan slegs R400 miljoen bewillig is. Rondom die situasie van die Rooikoppiesdam het hulle geensins die vermoë om verdere dorpsgebiede in te neem nie. Daar is selfs dele van Oukasie wat al 20 jaar vir dienste wag.”

Die Minister van Openbare Werke het vir Leon geantwoord dat hy einde Junie vanjaar kan weet wat hulle rondom die plakkers besluit het. Hulle is nou daardie Minister se verantwoordelikheid – danksy Madibeng.

Daar is geen twyfel dat die plakkers moet skuif nie. Waarheen weet nugter. Baie realisties sê Leon dat ons nie aldag besef dat menselewens op die spel is nie. Daardie mense – in elk geval enige mens – het die reg op ‘n sorgvrye lewensbestaan. Iemand moes hulle mislei het, want daardie deel van ons omgewing het geen geleentheid vir werk nie. Selfs opnames toon dat daar geen behoeftes vir behuising in daardie omgewing is nie. Hy voel baie sterk daaroor dat daardie mense menswaardig verplaas moet word. Ons het nie ‘n probleem met sy siening nie.

Ons gaan hierdie situasie fyn dophou.