SPEKBOOM – PLANT VAN DIÉ EEU

In Xhosa staan die Spekboom bekend as iGwanitsha, terwyl die Engelse naam vir die Spekboom die beskrywende ‘Elephant’s Food’ is (en nie ‘Pork Bush’ soos die direkte vertaling uit Afrikaans verkeerdelik lui nie), want dit vorm tot 80% van die Oos-Kaapse olifante se dieët. ‘n Olifant vreet tot 200 kg Spekboomblare per dag. In die proses kan hulle ‘n Spekboom stroop van byna al sy blare, maar dit loop elke keer weer spoedig uit met nuwe groeisels. Ook die takke wat platgetrap of afgebreek is, maak nuwe wortels en groei weer voort as deel van die boskasie. Spekboom floreer dus as dit van bo af bewei, getrap en bemis word. Die vernietiging van Spekboomstande in groot dele van die Oos-Kaap was egter die resultaat van oorbeweiding deur bos en grasvreters soos bokke en skape wat die bosveld van onder af kaal gevreet het en in die proses die Spekbome en die mikroklimaat onder hul beskermende boskasie vernietig het. Die seer oog van talle uitgetrapte plase lê hier vir almal om te sien. Spekboom is ‘n oorgroeide kruidagtige struik en die enigste spesie in sy genus en beperk tot die suidoostelike dele van Suidelike Afrika. Spekboom verkies somer reënval met warm somers en ‘n gematigde interklimaat. Die voorkoms van so groot getalle van Afrika se grootwild in hierdie area is grootliks as gevolg van die voorkoms van Spekboom. Interessant, in die Spekboom areas van die Oos-Kaap word feitlik geen groot miershope van termiete gevind nie. Noord van die Keiri-vier kom die tropiese termiete voor, terwyl suid van die Oos-Kaapse Spekboom-streek die gematigde-area termiete gevind word.

Spekboom (Portulacaria Afra) is werklik die wonderplant van die Oos-Kaap en die Sondagsrivier Vallei. Die Addo Olifant Nasionale Park is bevoorreg om die middelpunt van hierdie Spekboomstreek te wees. Die Vallei Bosveld bioom (Xerix Succulent Thicket), waarvan die Spekboom seker die belangrikste deel vorm, kom hoofsaaklik in die Oos-Kaapse riviervalleie van die Gamtoos, Sondags, Vis en hul omstreke voor.

Die eerste blankes wat hierdie deel van die Oos-Kaap binnegedring het, was jagters wat reeds in 1702 hier in die Sondagsrivier vallei kom olifante jag het. Vyftig jaar na die koms van Jan van Riebeeck na die Kaap was die vallei dus al bekend vir sy olifante – alles te danke aan sy welige stand van die Spekboom. Die Spekboom was vroeg reeds bekend in Europa. Reeds in 1771 het die bekende plantkundige, Linnaus, gerapporteer oor een wat blom in Italië en met die uitbreek van die Franse Revolusie in 1786, blom een in Wene. Ook vroeë reisigers deur suidelike Afrika meld gereeld die voorkoms van Spekboom. So skryf Thomas Pringle in sy African Sketches van 1834: ‘The spekboom, with its light green leaves and lilac blossoms … en later verwys hy na … browsing on the succulent spekboom, which clothed the skirts of the hills. In 1843 se Cape of Good Hope Almanac lees ons: ‘One of the most valuable shrubs…is the spekboom (portulacaria afra). It is found in great abundance on the stony ridges and affords excellent food for those large flocks of sheep, and especially of goats… In severe droughts this bush is truly invaluable.’ Vandag dra die Spekboom die toerismebedryf van die Oos-Kaap met sy talle wildplase, natuurparke en die Groot Vyf wat weer oral hervestig is in hul ou natuurlike habitat. Al meer boere beweeg deesdae weg van die veldvernietigende bok- en skaapboerdery na volhoubare wildboerdery.

Spekboom floreer in areas met ‘n reënval van 250 tot 375mm per jaar met baie warm somers. Dit word van 2,5m tot 4,5.m hoog met ‘n stam van gemiddeld 20cm in deursnee en kan tot 200 jaar oud word. Dit het sappige groen blare wat 1.3 mm tot 2 mm lank, stomp of gerond is en met ‘n klein stingel geheg word. Dit blom in die lente of vroeë somer na goeie reën met stervormige pienk of ligpers dubbelslagtige blomme wat goeie heuning lewer. Die vrugte is klein bessie-agtige pienk deurskynende vruggies met drie vlerkies en verlang spoedige reën na vrugval om te ontkiem. Die Spekboom is buitengewoon, omdat dit twee metodes van fotosintese volg: Gedurende wintermaande wanneer dit koel en vogtig is, vind gewone fotosintese en beter groei plaas; In droë toestande in die winter of somer volg ‘n proses wanneer die plant sy huidmondjies oopmaak en koolsuurgas “inasem” en sure binne die plant opbou. Gedurende die nag word die huidmondjies gesluit en die sure word afgebreek om koolsuurgas binne die plant vry te stel sonder dat die plant vog deur sy huidmondjies verloor. Die beskikbare vog word dan d.m.v. hierdie koolstofverbindings in die blare, stamme en wortels van die Spekboom gebêre vir droë tye. Die spekboom is dus ‘n wonderplant juis omdat dit albei hierdie prosesse kan volg. Hierdie spekboomfeite is vasgestel danksy fisiologiese studies deur wetenskaplikes in veral Amerika en Japan. Wetenskaplikes het reeds in die 1960’s en 1970’s agtergekom die spekboom werk anders as ander plante. Wat die spekboom nog meer spesiaal maak, is dat sy humus nie kan brand nie. ‘n Vuur kan dit dus nie vernietig nie en sy organiese materie, sowel as die koolstof uit die lug opgeneem, word uiteindelik in die grond opgeberg. Studies wat in die veld gedoen is, toon dat ‘n gemiddelde stand van spekbome tot 4 ton koolstof per jaar per hektaar vasvang.

Die aarde is besig om te verwarm met uiteindelike katastrofiese gevolge vir die mensdom. Een van die redes is die opbou van kweekhuisgasse soos Koolsuurgas (CO2) in die atmosfeer wat globale verwarming veroorsaak. Die Kyoto Pro-tokolle probeer hierdie verwarmings-proses stopsit en een van die metodes is om sogenaamde Koolstof Vangputte (“Carbon Sinks”) te skep wat groot hoeveelhede koolstof uit die atmosfeer op natuurlike wyse sal haal. Navorsing het bewys dat Vallei Bosveld (‘Xerix Succulent Thicket’) en veral Spekboom een van die mees suksesvolle Koolstof Vangputte ter wêreld is. ‘n Spekboom kan tot 100 keer meer koolstof uit die atmosfeer haal as wat ‘n denneboom van dieselfde grootte kan doen. Hierdie tipe bosveld kom net in Suid-Afrika, Meksiko en Spanje voor, maar is reeds grootliks uitgeroei in laasgenoemde twee lande. Spekboom gaan dus ‘n revolusionêre omwenteling in boerdery in die Oos-Kaap in die toekoms veroorsaak. Honderde miljoene rande behoort uiteindelik beskikbaar te wees om boere te betaal om hul Spekboomveld weer te laat herstel, deur hul veegetalle te verminder of Spekboom aan te plant. Op die oomblik is daar projekte aan die gang om honderde hektaar uitgetrapte kaal veld in die omstreke van die Sondagsrivier en die Baviaanskloof weer onder Spekboom te vestig. Boere gaan dus in die toekoms dalk boer met koolstof deur middel van hul Spekbome.

Tans word daar al handel gedryf in Koolstof Debiete en Koolstof Krediete. Lande soos Duitsland en ander Europese lande wat die Kyoto Protokol onderteken het, word aangeslaan met Koolstof Debiete weens hul oormatige besoedeling van die atmosfeer met al die CO2 uitlatings van hul motorvoertuie en fabrieke. Hulle moet dan Koolstof Krediete aankoop om hul uitstaande debiete te neutraliseer. Boere in die Oos-Kaap, wat deelneem aan die stelsel en hul plase se koolstof neerslag laat evalueer deur Duitse Sertifiseerders, sal hul Koolstof Krediete op die ope mark kan verhandel. Bedrae word genoem van enigiets vanaf 1 dollar tot 600 dollar per hektaar per jaar afhangend van hul Spekboomstande. Boere sal dus uiteindelik net op hul stoep kan sit en koffie drink terwyl hulle kyk hoe hul Spekbome groei! ‘n Verdere feit wat die Spekboom ‘n wonderplant maak is die vermoë van Spekboom om melkproduksie te stimuleer. Die ou tradisionele Xhosa’s het geglo dat ‘n ou moeder, ‘n maand voor haar eerste dogter geboorte sou skenk aan ‘n baba, groot hoeveelhede spekboomblare moes eet. ‘n Paar dae na die geboorte van ‘n dogter is hierdie baba dan aan die ouma oorhandig wat haar kon soog met melk, sodat daar ‘n jongmeisie in die huis sou wees om hout en water te gaan haal as die ouma oud word. Ek het hierdie feit een keer genoem aan weidingsdeskundiges van die Vrystaatse Universiteit en hulle kon bevestig dat hul proewe bewys het dat melkkoeie op spekboomweiding se melkproduksie die hoogte ingeskiet het. Spekboom is die stapelvoedsel van bosvreters soos die koedoe en ander grootwild. Dit is egter ook verteerbaar vir grasvreters soos beeste, solank dit saam met ander voedingsplante beskikbaar is. Dit is dus ‘n besondere habitat vir wild omdat dit in die droë winter nie alleen kos verskaf wanneer grasse en kleiner bossies nie meer eetbaar is nie, maar ook as beskutting dien tydens bittere koue weens die vog in die Spekboom wat hul hitte snags gedeeltelik behou en as goeie insulator dien. Spekboom verskil ook van ander bosstruike dat dit eetbaar is deur mense. Die blaartjies met hul effens suur suurlemoenagtige smaak is geskik vir gebruik in slaaie.

Spekboom is ryk aan mangaan en kobalt en veral ryk aan magnesium. Dit bevat ook groot hoeveelhede van die mikro-elemente, jodium en selenium. Duisendpote gebruik gekonsetreerde jodium as ‘n verdedigings afskeiding en dit verklaar die ongewoon hoë voorkoms van duisendpote in die Oos-Kaapse vallei bosveld. Dit verklaar ook die duisende duisendpote wat jaarliks oor die teerpad beweeg naby Uitenhage, waar daar digte spekboomstande langs die teerpad voorkom. Mense plant Spekboom al oor baie honderde jare aan as ‘n heiningplant. Spekboomtakke skiet baie vinnig wortel en begin groei as dit in die grond ingelê word. Deur bloot takke naby mekaar in die grond te plant, kan ‘n lewendige heining geskep word, wat ideaal is om jou erf te omhein. Swart veeboere het Spekboom oor die eeue geplant om krale se heinings te vorm. Die vee kon dan die kraal se binnekant in stand hou deur die blare en uitgroeisels af te vreet, terwyl die Spekboom vrylik aan die buitekant kon groei.

Hopelik sal die simbiose van mens, grootwild en Spekboom in die toekoms hier in die Oos-Kaap weer tot ‘n vrugbare ekologiese en ekonomiese saambestaan ontwikkel. Spekboom, die wonderplant van die Oos-Kaap, sal dalk uiteindelik as die reddingsplant van die Oos-Kaap bekend staan!