Staatsrede 2016: Zuma het die volk weereens in die steek gelaat

President+Jacob+ZumaDie 2016-staatsrede gaan buitelandse beleggers noop om hulle beursies toe te hou. Dit was die reaksie van Armand Greyling, regs- en beleidsanalis verbonde aan AfriSake, nadat president Jacob Zuma die regering se  ekonomiese planne van aksie vir 2016 bekend gemaak het.

Volgens Greyling was Zuma se nuwe inisiatief slegs mooipraatjies in ʼn halfhartige poging om beide buitelandse- en besigheidsbeleggers te paai. “Ons benodig nie verbeterde bemarking teenoor beleggers nie. Ons het drastiese en ingrypende ekonomiese beleidsveranderinge nodig.”

“Die ANC vind homself duidelik in ʼn ontkenningstoestand oor die oorsake van sy mislukte beleide. Die Zuma-regering besef dat die land betekenisvolle ekonomiese probleme in die gesig staar, maar begryp nie dat die oorsake van hierdie probleme die ANC se mislukte ekonomiese transformasiebeleide is nie,” het Greyling bygevoeg.

ʼn Positiewe stap was egter die erkenning dat ondernemings wat in staatsbesit is, gerasionaliseer moet word. ʼn Ander punt is die voorneme om privaat en onafhanklike partye toe te laat om die elektrisiteitsproduksiemark te betree.

Die land sal moet wag totdat die minister van finansies, Pravin Gordhan, sy begrotingsrede lewer om vas te stel hoe al die inisiatiewe rakende die verlaging in regeringspandering geïmplementeer gaan word. AfriSake is van mening dat die beste manier om korrupsie, oorspandering en wanbestuur stop te sit en uitgawes te beperk, is om belasting te verlaag,” het Greyling gesê.